Local news

Villagers galop na Koshuiskrieket-titel

Lohard Janse van Rensburg se 127 (41 balle) het vir Villagers na 'n 59 lopie oorwinning teen Patria in die Koshuiskrieketfinaal geneem.

Villagers Manskoshuis het hulle titel as die kampioen van koshuiskrieket met groot lof verdedig toe hulle vir Patria Manskoshuis in die finaal op die NWU Oval met 59 lopies op Saterdag, 9 Maart geklop het.

Villagers Manskoshuis vier hulle koshuiskrieket-titel. Foto: Bertus le Roux
‘n Derde titel in ‘n ry vir Villagers Manskoshuis.

Hierdie oortuigende oorwinning is danksy ‘n stewige 239/4 wat Villagers in hul 100 balle aangeteken het. Lohard Janse van Rensburg met ‘n verwoestende 127 van 41 balle (12 viere en 10 sesse) was weer eens Villagers se held met die kolf. Renier Bosman slaan ook ‘n goeie 43 (20 balle).

Foto’s: Bertus le Roux

Renier Bosman slaan ‘n hou na die grenstou.
Lohard Janse van Rensburg se kolfwerk was uit die boonste rakke.

Patria (wat vir Caput in hul half-eindstryd met 36 lopies geklop het) veg moedig maar hul kom net tot by 180/5 uit. Wian van der Merwe (47 van 29 balle) en Dries Stemmet (44 van 19 balle) is hul voorste lopiemakers op die dag. Wehan van Rooyen (2/38) en Liam Anderson (2/29) neem die nodige paaltjies vir Villagers met die bal.

Wehan van Rooyen se 78 was belangrik in die half-eindstryd.

Vroeër die dag het Villagers teen Veritas in die halfeindstryd te staan gekom wat Villagers met 96 lopies gewen het. Van Rooyen se 75 (48 balle) lei Villagers na ‘n totaal van 161/5. Veritas beleef ‘n kolf-ineenstorting en behaal 65 almal uit.

Janse van Rensburg, ‘n oud-Volkie, is sonder twyfel Villagers se speler van die liga nadat hy ook ‘n 78* en 113 die vorige naweek teen De Wilgers en Heimat onderskeidelik aangeteken het. Sodoende eindig hy met 324 lopies in vier wedstryde teen ‘n treftempo van 294 en gemiddeld van 108 wat absoluut verstommend is.

Die vorige naweek (Saterdag, 2 Maart) het Villagers alreeds begin bewys hoekom hulle vanaf 2020 die koshuiskrieket-titel dra.

Lohard Janse van Rensburg slaan nog ‘n grenshou.
Frans Viviers in aksie vir Villagers.

Teen Die Wilgers bereik hul die 90 lopie-teiken in slegs die vierde boulbeurt. Villagers het in hul wedstryd teen aartsvyande Heimat, ook nie geskroom om hul superioriteit te bewys nie. Janse van Rensburg slaan hier 113 en met 8 sesse veroorsaak hy dat vier balle ook weggeslaan is wat vervang moes word. Villagers klop Heimat hier met ‘n 115 lopies.

Na vier top oorwinning kan Villagers se krieketspan hul trofee weer netjies in hul trofeekas gaan bêre. Stof sal verseker nie op die krieketrak opgaar nie.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button