Stoffel danksy Herald se berig na meer as ‘n maand veilig tuis

Stoffel, 'n Yorkie in Dassierand is uiteindelik na meer as 'n maand gevind.

Stoffel, ‘n Yorkshire terrier wat 21 Januarie weggeraak het, is 5 Maart laatmiddag gevind. Katinka en Derrick Lynch, Stoffel se eienaars, is verheug om Stoffel weer by hulle te hê. Die Lynchegpaar woon in Dassierand, waar Stoffel weggeraak het.
“Ons het hom laatmiddag in Promosa gaan haal,” vertel Katinka. “Iemand het Stoffel in ‘n huis raakgesien en die berig oor Stoffel in die Herald onthou. Hulle het die berig gaan soek om ons te kan kontak, waarna ons Stoffel gaan haal het.”
Stoffel, Katinka en Derrick bly al vir nege jaar saam en is baie geheg aan mekaar. Die tyd wat hul sonder mekaar was, was vir almal baie moeilik.
Stoffel het verdwyn nadat Derrick hom laat uitgaan het, maar hy het nie teruggekom nie. Die Lynch-egpaar het oral na Stoffel gesoek, maar kon hom nie opspoor nie.
Hulle was later raadop.
Katinka het in ‘n vorige berig aan die Herald genoem dat Stoffel aan skeidingsangs ly, en die tyd wat hy sonder die Lynchegpaar was, was vir hom baie traumaties.
“’n Vrou het hom by ‘jonges’ gekoop en in haar huis vasgebind sodat hy nie gesteel word nie,” vertel Katinka.
“Sy het hom opgepas na die beste van haar vermoë, maar hy is getraumatiseer omdat hy vasgebind was.”
Katinka bedank almal wat gehelp het om Stoffel te vind. “Dankie aan almal wat die berig moontlik gemaak het, ons sal julle ewig dankbaar wees,” sê Katinka.
Na Stoffel se uitmergelende avonture is hy uitgeput. Hy rus en sterk by sy geliefde mense aan.
“Hy is bietjie vreemd, maar ek glo hy sal nou vinnig weer sy ou self wees,” voeg Katinka by

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version