Help Bailliepark-atleet om na die sterre te reik

Lihann het 'n liefde vir hardloop in 2022 ontdek, en is tans die onoorwonne kampioen vir die 0.11 1200-meter atletiek-item.

Lihann Kemp (11) ‘n vlugvoetige langafstandkampioen, doen ‘n beroep op Potchefstromers om hom geldelik te help op sy pad na sukses.
Lihann, ‘n gr. 5-leerder aan die Laerskool Bailliepark, het reeds vir hom begin naam maak in die 2023 landloopseisoen waar dit duidelik geword het aan sy ouers Stefani en Ivan Viljoen dat Lihann se talent bogemiddeld is.
Lihann se prestasies lyk soos volg:
· Eerste plek in die o.10 SA landloopkampioenskappe, 2023.
· Eerste plek by Laerskool Bailliepark Interhuis, 1200-meter, 4:07 minute.
· Eerste plek by Mooirivier Prestigegeleentheid, 1200-meter, 4:00 minute.
· Eerste plek by Kring-byeenkoms, 1200-meter, 3:56 minute.
· Eerste plek by JB Marks Atletiekbyeenkoms, 1200-meter, 4:00 minute.
· Eerste plek by Kenneth Kaunda Distrik Atletiek-byeenkoms, 1200-meter, 3:56 minute.
Lihann gaan 8 Maart aan die Noordwes Skole Atletiekkampioenskappe deelneem, waar hy ‘n gemiddelde tyd van 3:54 moet hardloop om te kwalifiseer vir die SA Skole Atletiekkampioenskappe.
“My liefde vir hardloop het begin toe ek in 2022 landloop begin doen het,” vertel Lihann. “Ek is dankbaar vir die talent wat God my gegee het en dat Hy elke tree saam met my hardloop.”
Die SA Skole Atletiekkampioenskappe vind 24 tot 26 Maart in Polokwane plaas. Die gesin kan dit geldelik nie bekostig om Lihann daarheen te neem nie, maar glo dat barmhartige Potchefstromers Lihann se potensiaal raaksien en waar moontlik, die gesin sal help om hul brandstof en verblyf te kan betaal sodat Lihann sy drome kan najaag.
Stefani het ‘n tombola-groep geskep waar jy kan bydra tot Lihann se befondsing vir die kampioenskappe en selfs moontlik met ‘n prys wegstap. Dit werk as volg; Stefani kontak besighede wat dan hul produkte of dienste skenk.
Deelnemers koop dan kaartjies en betaal die geld direk in Lihann se kampioenskappe-bankrekening in.
Indien meeste of al die kaartjies vir ‘n produk of diens verkoop is, word daar ‘n wiel gedraai om die wenner te bepaal.
Stefani neem ‘n video hiervan en plaas dit dan op die groep waarna die wenner hul produk of diens kan ontvang en ‘n nuwe kompetisie begin.
Lihann bedank almal wat tot dusver gehelp het om sy droom te bewaarheid en voeg by dat indien hy kwalifiseer vir die SA kampioenskappe, hul nog bietjie hulp nodig het om dit te kan bywoon.
Kontak Stefani by 079 693 6397 vir meer inligting, of om deel te word van die tombola pret.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version