Local news

NWU landloopatlete presteer op wêreldverhoog in Oman

Keanu Domingo (goud) en Christopher Swart (silwer) het die NWU en Suid-Afrika met trots verteenwoordig by die FISU Wêreld Universiteit Landloopkampioenskappe in Muscat, Oman in Februarie.

Dit is verstaanbaar dat ‘n mens nie die glimlagte van die NWU atlete, Keanu Domingo en Christopher Swart se gesigte sommer vinnig sal kan afhaal nie. Domingo en Swart het onlangs puik presteer by die 2024 FISU Wêreld Universiteit Landloopkampioenskappe in Muscat, Oman toe hulle as wenner en naaswenner in die 3 km wedloop geëindig het.

https://www.instagram.com/reel/C3-JBZ5IZ7J/?utm_source=ig_web_copy_link

Domingo is nou ‘n wêreldkampioen met goud in sy sak in ‘n tyd van 07:58, terwyl Swart ‘n kortkop agter hom met silwer in 08:01 spog.

Keanu Domingo en Christopher Swart nadat hulle onderskeidelik goud en silwer in die 3 kilometer vir mans by die FISU Wêreld Universiteit Landloopkampioenskappe in landloop gewen het. Foto: Verskaf.

Hierdie podiumplekke op die wêreldverhoog is net weer ‘n bewys van die kwaliteit atlete wat die NWU oplewer om die kompetisie op internasionale vlak uit te stof. Daar was sowat 50 atlete vanuit 30 lande wat aan die wedloop deelgeneem het.

“Dit was ‘n baie goeie wedloop vir my en ‘n bewys dat ek op die regte spoor is. Dit is ‘n ongelooflike gevoel om te kan wen,” vertel Domingo wat noem dat hy op 16 ‘gedwing’ was om te hardloop.

“My potensiaal is raakgesien en ek het aangehou met die sport, nou is ek verlief daarop en wil die volgende top atleet in die sport wees. My fokus is om die beste te wees,” verduidelik Domingo met selfvertroue.

Vir Swart was dit ‘n lekker gevoel om saam met sy spanmaat, Domingo, op die podium te kon staan nadat hulle as ‘n span hul wedloopstrategie perfek uitgevoer het.

“Keanu het op die laaste stuk versnel en ek kon toe nie byhou nie. Daar was ‘n Spanjaard wat my verbygesteek het, maar in die laaste 100 m het ek hom ingehaal om die tweede plek te vat. Dit is vir my ‘n baie goeie prestasie en wys dat ek op die regte pad is,” vertel Swart.

“Landloopwedrenne vereis strategie, aanpasbaarheid en geestelike gehardheid, wat dit ‘n lonende dissipline maak vir atlete wat beide persoonlike en spansukses soek,” verduidelik Swart meer oor hierdie sport.

Swart noem dat hy ambisieuse doelwitte vir homself stel, maar ook die pad na sukses wil geniet. Sy groot doelwit is om vir die Olimpiese Spele se 1500m te kwalifiseer. Voor dit lê die 2024 Wêreldlandloopkampioenskappe in Serwië voor wat op 30 Maart begin.

Keanu Domingo en Christopher Swart nadat hulle goud en silwer in Oman behaal het.

“Om spesifieke, haalbare doelwitte te stel, help my om gemotiveerd en aanspreeklik te bly, of dit nou ‘n teikentyd, plek of persoonlike beste is. Die beoefening van bewustheidstegnieke soos diep asemhaling, meditasie en positiewe selfgesprekke help my om kalm en gefokus te bly onder druk, wat my in staat stel om op my beste te presteer wanneer dit die meeste saak maak,” verduidelik hy.

Die bekende afrigter, Jean Verster, rig hierdie twee atlete af. Albei atlete meen dat Potchefstroom die ideale plek is om te oefen en is slaggereed om hierdie seisoen nog verdere top resultate te behaal.

“Potch het fantastiese fasiliteite, terwyl baie internasionale atlete ook hier kom om te oefen. Al die hulpbronne is hier om teen die bestes te kompeteer. Die enigste aspek wat ‘n mens terughou is die ingesteldheid. As dit reg is dan sal sukses aanhou gebeur,” noem Domingo.

 

Related Articles

Back to top button