Local news

Vrou swem Midmar agt myl, samel geld in vir KANSA

Tessa het verlede jaar R 15 000 vir KANSA ingesamel, en die jaar die 8-myl Midmar resies geswem vir KANSA.

Tessa Hansen (55) het onlangs die Midmar agt myl vir KANSA geswem.
In 2018 het Tessa, ‘n kranige hardloper, besluit dis tyd vir ‘n nuwe avontuur en in Potch Dam se swembad geklim. “Ek het besluit ek gaan van nou af swem. Ek het later van die Midmar uitgevind en omdat ek daarvan hou om myself uit te daag, het ek ingeskryf.” Tessa las by dat die Midmar in 2019 die eerste keer was wat sy in oop water geswem het. “Toe ek in die dam staan en daai modder kom so deur my tone het ek by myself gedink ‘O koek, waarin het ek myself nou gekry?’”

Tessa het haar eerste Midmar myl vir Pink Drive geswem.

Tessa se buurvrou en jarelange vriendin is in 2019 oorlede aan kanker en die vriendin se seun is in 2009 aan kanker oorlede.
Dit het Tessa aangespoor om haar eerste Midmar vir Pink Drive te doen om kankerbewustheid te skep. Tydens die Midmar het sy uitgevind dat mens die Midmar se agt myl kan aflê vir KANSA, en het besluit dit is haar volgende uitdaging.
“Ek hou van uitdagings, maar ook om goed vir ‘n goeie doel te doen. Ek sê altyd Psalm 37 vers vyf is my lewensleuse. Die stukkie wat sê ‘Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom’, maar ek glo nie dat mens rustig moet sit en wag nie, jy moet deelneem aan die lewe en ander help waar jy kan.” Tessa voeg by dat sy ‘n baie praktiese mens is, “As jy iemand verloor het wil ek ‘n bak lasagne aflaai, of as jy hartseer is wil ek ‘n cupcake bak. Om die Midmar vir KANSA te doen is iets wat ek gevoel het ek kan doen om ander te help.”
In 2020 het Covid-19 egter die wêreld platgetrek en Tessa het self Covid opgedoen waarna sy baie met haar gesondheid gesukkel het.

KANSA Vrouetee 2023 – Lanka Stols, Tessa Hansen en ds. Sanré Benade wat as gasspreker opgetree het.

Tessa het in 2023 die eerste keer die agt myl vir KANSA geswem, en het dit die jaar ook vir KANSA geswem. Tessa beoog om in 2025 ook die agt myl vir KANSA te swem.
“’n Mens moet R10 000 insamel vir KANSA wat dan gebruik word vir navorsing en kanker-bewustheid. Ek hou elke jaar in Oktober ‘n KANSA Vroue-tee wat ek as geleentheid gebruik om die R10 000 in te samel. Omdat ek nie mense net wil vra vir geld nie, reël ek dit as ‘n saamkuiergeleentheid met musiek en ‘n spreker.”
Tessa vertel dat sy in haar eerste jaar R30 000 ingesamel het, en laasjaar R15 000. “Dis moeilik want almal sukkel maar met geld,” sê Tessa.
Tessa vertel dat sy al ‘n paar keer ‘n pad saam kanker-lyers gestap het en dat dit een van die redes is wat haar aanspoor om dit te doen. “My swemloopbaan is baie soos die lewenspad wat mens stap, en baie soos die paaie wat ek saam met hierdie mense gestap het. Ek het al ‘n angsaanval in ‘n dam gekry. Die ding is dat mens nooit weet wat volgende kom nie, maar dat jy moet aanhou stap en dat jy dit saam met ander moet doen.”

Die mense vir wie Tessa Hansen vanjaar se Midmar agt
myl geswem het.

Buiten die vriendin en haar seun wat oorlede is aan kanker, is goeie vriende van Tessa en haar man se dogter in 2022 aan kanker oorlede. Tessa se ma (82) is tans in remissie, asook ‘n kerkvriendin (86). Tessa gee skool by Laerskool E.S.le Grange, en ‘n kollega en vriendin daar is ook tans in remissie. “Ek weet nie hoe dit so gekom het dat so baie om my ‘n stryd met kanker gehad het nie, maar die Here het definitief ‘n doel vir my op hierdie pad,” sê Tessa.

Related Articles

Back to top button