Local news

NWU se Shaun Christie ontvang goedkeuring vir regsverteenwoordiging

Die saak is uitgestel na 12 Maart weens die goedkeuring vir regsverteenwoordiging en die ingewikkeldheid van die saak.

Shaun Christie, ‘n senior student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) was tydelik geskors nadat hy ‘n Registrasie en Oriëntasie (R&O) sessie onderbreek het.

Christie het vandag, 29 Februarie sy tweede verhoor gehad waar sy versoek om regsverteenwoordiging in sy dissiplinêre verhoor toegestaan is. Die verhoor is egter uitgestel na Dinsdag, 12 Maart weens die ingewikkeldheid van die saak, en goedkeuring vir regsverteenwoordiging.

Christie het tydens ‘n R&O sessie wat gehandel het oor LGBTQIA+-sake opgestaan en die gehoor aangespreek waarna studente opgestaan het en die sessie verlaat het. Christie is van die volgende vyf aanklagtes van wangedrag aangekla:

  • “Haatspraak deur studente aan te hits om teen die LGBTQIAP +-gemeenskap op te staan”
  • Opsetlike ontwrigting van ‘n universiteitsprogram
  • Die regte van die spreker tydens die sessie geskend
  • Homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP +-gemeenskap
  • Wederregtelik en met opset ’n valse uitlating rakende die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het.

Tydens Christie se eerste verhoor is sy tydelike skorsing gelig. Daar is bepaal dat Christie met akademiese verrigtinge mag voortgaan, maar nie openbare geleenthede van die NWU bywoon nie.

Ronald Peters, bestuurder vir Afriforum Jeug is bly oor die goedkeuring van Christie se regsverteenwoordiging. “Vandag se verrigtinge was beperk tot hierdie belangrike versoek, maar noudat dit toegestaan is, kan ons help toesien dat Christie se regte tydens hierdie proses optimaal beskerm word,” meen Peters.

AfriForum Jeug se regspan sal voortgaan om Christie by te staan in die saak en sal Christie ook tydens die verhoor verteenwoordig.

Related Articles

Back to top button