Local news

Bailliepark: Die Republiek van slaggate in Potch

Om slaggate te herstel is ‘n duur proses en om ‘n straat soos Republiek wat oor 900 meter strek te herstel sal ‘n groot finansiële inspuiting benodig.

Dit is nie meer ‘n geheim dat Bailliepark se strate propvol slaggate is nie en as ‘n mens na die swak toestand van Republiekstraat kyk, is dit tekenend van gebrekkige dienslewering wat inwoners in hierdie buurt ervaar.

Die Herald het die afgelope Saterdag, 24 Februarie in Republiekstraat gery op pad na die Bailliepark Gemeenskapsprojek (BPGP) se maandelikse slaggat herstelaksie saam met AfriForum en Kleinplaas Pype.

Terwyl daar hard gewerk is om Neethling en Richardsonstraat se slaggate met teer te vul, is Republiekstraat op hierdie stadium nog ‘n groot kopseer vir inwoners.

Die aantal slaggate en werk wat verrig sal moet word om die pad te herstel, maak dit ‘n moeilike taak vir die BPGP wat van donasies uit die gemeenskap afhanklik is vir die herstel van slaggate.

Om slaggate te herstel is ‘n duur proses en om ‘n straat soos Republiek wat oor 900 meter strek te herstel sal ‘n groot finansiële inspuiting benodig.

In vergelyking is Richardsonstraat, wat baie minder slaggate het, 750 meter lank. Dit het die span van BPGP en AfriForum ongeveer ‘n halwe dag geneem om herstelwerk daar toe te doen.

Volgens DA wyk 3 raadslid, Anné van Onselen, is die slaggate in Republiekstraat al telkemale gerapporteer, maar die munisipaliteit het nog nie werk hiervan gemaak nie.

Republiekstraat in Bailliepark is in ‘n erge toestand.

“Om net die slaggate te herstel, gaan nie ‘n langtermyn-oplossing bring nie. Ons paaie word nie meer gereeld onderhou soos in die verlede nie en dit veroorsaak dat die teer uitdroog en die geringste los klippie veroorsaak dan ‘n slaggat, sodra daar wrywing is van die karre wat daaroor ry. Daar was in die verlede ‘n spesifieke span wat die paaie gereeld behandel het om die teer gevoed te hou.”

Die Herald het verlede jaar gereeld oor die slaggate in Bailliepark berig met verskeie strate soos Wynne wat in ‘n haglike toestand was. Sedertdien is Wynne in ‘n beter toestand danksy die gemeenskap se insae.

* Die Herald het navraag aan die J.B. Marks munisipaliteit oor die toestand van Republiekstraat gestuur, maar teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button