Martiné Jordaan trek Proteakeurders se aandag

Sy is allermins ’n hemelbesem, en op die netbalbaan word sy dikwels deur wolkekrabbers omring. Maar, hart en durf word nie in sentimeters gemeet nie, en die Noordwes-Universiteit (NWU) se Martiné Jordaan is 'n vuurvreter op die baan soos min.

Martiné het sonder moeite die keurders van die Protea-span se oë gevang het, en van 22 tot 28 Januarie was sy deel van ‘n nasionale oefenkamp in Stellenbosch. Hier was al haar onverskrokkenheid weer ten toon gestel, maar sy sê sy ondergaan ‘n groot gedaanteverwisseling wanneer sy die baan verlaat.

“Ek dink mense sal verbaas wees as hulle hoor ek het ’n sagte persoonlikheid en is baie teruggetrokke. Ek is lief daarvoor om saam my vriendinne koffie te gaan drink by verskillende koffiewinkels in Potch, en om so af en toe op die plaas te wees,” het sy uit die Eikestad laat weet.

Martiné Jordaan in aksie vir die NWU.

Martiné het in 2020 aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer waarna sy farmasie by die NWU se Potchefstroomkampus begin studeer het. Nou leef sy haar netbaldroom ten volle uit: “Ek vind netbal by die NWU as iets regtig besonders en uniek. Dit is ’n kultuur wat jy nie maklik by ’n ander universiteit sal kry nie.”

Haar vennootskap met netbal het langs die Mooirivier begin. “Ek het my passie vir netbal op skool gevind, en het dadelik ‘n liefde daarvoor ontwikkel omrede ek baie kompeterend is. Wat ek die meeste geniet van netbal is om nuwe mense te ontmoet en dat almal saam kan werk om ‘n gesamentlike doel te bereik. Die hoogtepunt van my netbal sover is vir seker toe ek gekies is vir die President XII-span en toe ek nou genooi is om te kom proewe speel vir die Proteas. Ek sal graag vir die nasionale span wil speel en eendag oorsee gaan netbal speel,” het sy gesê.

Sy beskryf haar werksverrigting en haar aanhouer-wen-houding as dinge nie klopdisselboom op die baan verloop nie as haar sterkpunte, hoewel sy nog nie haarself as die afgeronde produk sien nie:

“Ek kan nog werk aan my kommunikasie met ander om ‘n leier te wees deur my aksies.” Terug na die maatband toe. Dié is vir haar ‘n dryfveer.

“Wat my die meeste aanmoedig is dat ek graag ’n inspirasie vir kleiner netbalspeelsters wil wees deur vir hulle te wys dat enige iets moontlik is as jy jou hart daarin sit.” Jou hart vir jou span gee.

“Hoewel mens as ’n individu op die netbalbaan raakgesien word, is netbal ’n spansport, so ek sou niks kon bereik sonder my span nie.”

Die voorlopige Protea-oefengroep is ná afloop van die proewe van 30 spelers tot 25 verminder. Sy is een van daai 25.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version