NW rolbalspelers presteer by Meesterstoernooi

Lezandri Hildebrand (18) dring deur na die finaal en stof met ‘n aanskoulike wedstryd die Protea, Thabelo Muvhango, uit om as wenner van die Junior Dames aangewys te word.

Rolbal Suid-Afrika bied jaarliks die Meesterstoernooi aan waar hul die room van die land se rolbalspelers selekteer om deel te neem.

Dit is die naweek van 9 – 11 Februarie by Wingate Park in Pretoria aangebied.

Hierdie toernooi word met groot prestige geag en dit is ‘n besondere eer om genooi te word. Noordwes was bevoorreg dat drie van hul spelers die provinsie hier kon verteenwoordig.

Lezandri Hildebrand.

Die Potchefstromer, Lezandri Hildebrand (18) neem vir die derde keer deel in die Junior Dames (onder 30) afdeling. Op die rug van ‘n mediese prosedure in Oktober verlede jaar en beperkte tyd om voor te berei vir die toernooi, gooi Lezandri die appelkar om en bied deurentyd uitsonderlike spel.

Sy gaan uiteindelik deur na die finaal en stof met ‘n aanskoulike wedstryd die Protea, Thabelo Muvhango, uit om as wenner van die Junior Dames aangewys te word. Lezandri self spog met vele prestasies in die provinsie, nie net in die Junior-afdeling nie, maar so ook in die Ope-afdeling, waar sy meermale teen spelers soos Sega Mokoto te staan kom.

Die ervare Sega Mokoto, het weer bewys dat sy ‘n gerekende speler is

Hierdie is kenmerkend van die diversiteit en blootstelling wat deur rolbal gebied word. Sega Mokoto, wat vir ‘n derde opeenvolgende keer genooi was in die Dames Ope-afdeling het uitsonderlik indrukwekkende wedstryde gehad met haar oog op ‘n medalje hierdie jaar. Sy mis egter uit op die brons, deurdat die internasionaal bekende Colleen Piketh dit met ‘n skamele twee skote voor haar neus wegraap in die laaste rondte van die toernooi.

Sega is een van Noordwes se bes presterende dames. Sy gaan later vanjaar ook die provinsie se spanne as kaptein lei by die Rolbal Suid-Afrika Inter-distrikte kampioenskappe in Port Elizabeth.

In ‘n bittersoet einde, verkry Gene Hill die geleentheid tot insluiting by die Veterane Mans-afdeling, ná die skielike afsterwe van Rudi Jacobs op 4 Februarie vanjaar.

 

Gene Hill laat waai vir Noordwes.

Rudi was ‘n legende in die sport en het reeds in 1998 sy nasionale kleure verwerf. Hy was jarelange verteenwoordiger van Noordwes, en meer onlangs van Noord-Vrystaat rolbal unies.

Rudi Jacobs.

Almal is dit eens dat Gene ‘n waardige plaasvervanger is, met ‘n rolballoopbaan wat strek vanaf 1981. Hy is welbekend in plaaslike rolbalkringe as die grootste ‘gentleman’ wat jy op die baan sal teëkom en word geag as ‘n welgerespekteerde rolmodel vir die jonger garde van die sport.

Uiteindelik sou hy vyfde in sy seksie eindig en het groot waardering dat hy kon deel wees van hierdie ‘ysbreker’ toernooi, ‘n droom wat hy vir baie lank reeds koester. Uitsendings van verskillende wedstryde van die toernooi kan op die onderskeie Facebook blaaie van 1Sport4Life, Burnt End Promotions en Bowls Gauteng North gevind word.

Gaan kyk gerus waarom daar soveel opwinding in die sport bestaan.

Noordwes staan uiters trots met wat hierdie spelers bereik het en sien uit na al die geleenthede wat in die toekoms vir hulle voorlê.

Verder betoon hulle hul medelye met Rudi se vrou Tracy en dogter, Natassha Jonker. Rudi het ‘n groot impak op baie spelers se lewens en loopbaan gehad en was baie geliefd onder die rolbalfamilie.

 

Exit mobile version