Motorfiets-egpaar ernstig beseer na ongeluk met trop koedoes

Martin Nass (adjunkpresident van Potch Bulldogs Motorfietsklub) en sy vrou, Janine het veelvuldige beserings opgedoen en moes operasies ondergaan.

Die adjunkpresident van Potch Bulldogs Motorfietsklub, Martin Nass en sy vrou Janine, is ernstig beseer nadat ‘n trop koedoes voor hulle op die N1 naby Drie Susters ingehardloop het.

Martin en Janine Nass was verlede week op die N1 in ‘n motorfietsongeluk betrokke na hulle van ‘n Christian Motorcyclists Association Freedom Road Rally terug huiswaarts gekeer het. Foto: Potch Bulldogs/Facebook.

Die Nass-egpaar was saam ‘n ander egpaar, Max en Sam Larue (Christian Motorcyclists Association – Gauteng-Noord streek president), op pad na Pretoria en Hartbeespoortdam, toe die ongeluk omstreeks 07:00 op Dinsdagoggend, 20 Februarie plaasgevind het. Altwee egpare het beheer oor hul twee BMW GS-motorfietse verloor. Martin was saam met Janine en die Larue-egpaar in die Wes-Kaap vir die jaarlikse Freedom Road Rally in Saldana Baai wat deur die Wes-Kaapse takke van CMA aangebied was.

Max Larue (president van die CMA Gauteng-Noord tak) en Martin Nass. Albei was in die ongeluk betrokke.
Samantha Larue en Janine Nass.

Die CMA Wonderboom het die nuus aanvanklik op sosiale media gedeel en gevra vir ondersteuning en gebede rondom die herstel van die egpare. Volgens die vorige plasing het Martin sagte weefselskade opgedoen, terwyl sy sleutelbeen ook gebreek is. Sy linkerskouer het ook seergekry.

Janine het ligamente in haar knie geskeur en twee gebreekte ribbes sowel as haar gewrig gebreek en haar voet. Max se been en bekkenbeen is gebreek, terwyl Sam se been ook gebreek is. Max wag nog om vervoer te word van George na Pretoria vir sy operasie omdat die operasie nie in George aangebied kan word nie.

Janine herstel tans van haar beserings by ‘n private hospitaal in George. Sy, Max en Sam is aanvanklik van ‘n hospitaal in Beaufort-Wes oorgeplaas om operasies in George te ondergaan.

Martin is Vrydag, 23 Februarie ontslaan nadat hy Donderdag in George geopereer is.

Die president van Potch Bulldogs, Jannie Delport, noem dat Martin en Janine al albei 5 jaar aktief lede van die klub is.

“Ons klub en CMA bly maar net bid vir vinnige beterskap en dat die herstelproses so spoedig as moontlik sal geskied,” sê hy.

Exit mobile version