Local news

Oud-Potchefstromer Bouwer Bosch in nuutste Afrikaanse film

"Ek was bereid om die rol verniet te doen, ek wou net deel wees van die proses," vertel Bouwer.

Oud-Potchefstromer en oud-Gimmie, Bouwer Bosch, hou sy lyf sekuriteitswag in die film ‘Frankie en Felipé’ deur Bradley Olivier en Solomon Cupido.

Bradley Olivier en Solomon Cupido in ‘Frankie en Felipé’ Foto: Verskaf.

“Toe ek uitvind dat Bradley en Sollie die film wil maak, het ek hulle dadelik gebel en gesê: ‘Dude, ek sal dit verniet doen’,” vertel Bouwer laggend. “Dit het my laat dink aan toe ek en Bennie Fourie saamgewerk het aan ons fliek ‘Vuil Wasgoed’.
‘Frankie en Felipé’ is Bradley en Sollie se eerste fliek saam en dis ‘n massive voorreg om deel te kan wees hiervan,” sê Bouwer. Bouwer brei uit oor sy karakter in die film as sekuriteitswag. “Ek is ‘n sekuriteitswag by super-ryk mense. Dit is nie ‘n groot karakter nie en Solomon en Bradley het my baie vryheid gegee om te improviseer met die rol aangesien dit nie regtig die loop van die storie affekteer nie.” Bouwer verduidelik dat kleiner rolle redelik kan improviseer met hul karakter aangesien die karakter nie die storielyn sal verander nie.
Hy verduidelik dat die film in die Kaap geskiet is, “Om elke dag saam met hulle op stel te wees en in die Kaap te wees was ongelooflik, dit was freakin’ awesome.” Bouwer dink terug oor die film-proses en onthou laggend dat daar ‘n dag was wat hy, Solomon en Bradley vir meer as vier ure gewerk het aan stoeisessies. “Dit was eintlik so snaaks, want in die fliek self is dit maar 30 sekondes, maar dit het so lank gevat om dit te choreografeer. Elke keer wanneer ons dink ons het dit, besef ons dit gaan nie werk nie en iets moet anders gedoen word. “Die ervaring was all round amazing, dit is ‘n incredible rolprentverdeling met van die grootste name in die Afrikaanse film-wêreld.” Volgens Bouwer is dit beslis ‘n film wat nie misgeloop moet word nie, en noem dat daar ‘n boodskap is wat kykers huis toe kan vat. “Dit is ‘n boodskap van hoop. Mens dink altyd daar is nie meer iets om voor te hoop nie, maar daar is. Ek dink veral in ons challenging land is dit so ‘n goeie boodskap, dat daar altyd nog hoop is om aan vas te hou.” Bouwer voeg by dat die film jou lagspiere sal laat werk, “Dit is definitief een van die snaakste flieks wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Ek’t vir Sollie gesê, die snaakste een is ‘Vuil Wasgoed’, die tweede een is ‘Frankie en Felipé’,” lag Bouwer. “Hierdie is die ou van ‘Vuil Wasgoed’ wat dit sê, so jy kan maar weet dis snaaks.”
* Die film word 23 Februarie vyrgestel.
* Bradley is 20 Julie verlede jaar skielik oorlede.

Related Articles

 
Back to top button