Local news

Lang gras skep veiligheidsrisiko vir Miederpark-inwoners

'n Gebrek aan instandhouding van oop erwe in Miederpark het daartoe gelei dat ‘n vrou amper in haar oprit gekaap is.

Isabel Heenop, wat reeds vir die afgelope 36 jaar in Geelhoutlaan woon, vertel dat sy met alles in haar moes baklei toe ‘n misdadiger wat in die lang gras weggekruip het, haar twee weke gelede verras het.

Kyk die video hier:

“Hy het agter my kar op sy hurke geskuil en probeer om my kar te steel. Hy het my op die grond gegooi, maar ek het opgestaan en hom getrek dat hy daar lê. Ek het toe geskree en gelukkig het my seun gehoor en hom agternagesit. Hy is toe in die bosse in en kon wegkom,” vertel Heenop.

Die lang gras in Geelhoutlaan is al vir jare ‘n dilemma vir inwoners.
Isabel Heenop vertel dat die lang gras ‘n groot veiligheidsrisiko is vir inwoners.
Hierdie oop erf op die hoek van Suikerbos en Strelizialaan is lanklaas onderhou.
  • Nie net is die lang gras ‘n plek waar skelms kan skuil en gesteelde goedere kan wegsteek nie, maar skep ook ‘n broeiplek vir slange, rotte en ander plae. Een van die inwoners in Geelhoutlaan moes juis hierdie maand ‘n rinkhals uit haar huis verwyder het.
  • Ander inwoners moes ook rotgif koop om die plae te beheer wat aan die toeneem is. Die sneeubaleffek is dat die ekstra gif gesondheidsrisiko vir inwoners se diere kan veroorsaak.

“Dit kan nie so lyk nie. Dit is al vir jare ‘n probleem dat die gras in die oop erwe nie gesny word nie. Verder lyk dit net so erg in Suikerboslaan wat propvol slaggate is. Die straatligte werk ook nie, wat dit ook baie onveilig maak,” noem Heenop.

VF Plus wyksraadslid, Everhard Laing, noem dat hierdie oop erwe aan die Departement van Openbare Werke behoort. Dit is op die hoeke van Viljoenstraat, Gardenialaan, Suikerbosstraat en Govan Mbeki-rylaan. “Ons hou aan om dit weekliks te rapporteer, veral oor die lang gras,” noem Laing.

JB Marks munisipale woordvoerder, Jeanette Tshite het by navraag genoem dat die afgelope reënseisoen die parke laat toegroei het en dat die instandhouding vererger is deur masjiene en toerusting wat gebreek het.

Slaggate in Suikerbosstraat in Miederpark is ook kommerwekkend.
Straatligte het ook die gees gegee.

“Daar skuil soms metaal en klippe in bosagtige gebiede en dik grasse en dit kan die masjinerie negatief beïnvloed. Daar is kennis van die klagte rakende die Miederparkarea geneem en die span wat begraafplase sny sal aangewys word om daardie areas te onderhou,” stel Tshite.

Related Articles

Back to top button