Local news

Gimmie-leerder ernstig beseer in fietsongeluk

Die trok het Philip Moodie sowat 10 meter van sy fiets afgegooi waarna hy bewusteloos was.

Philip Moodie (13), ‘n gr. 8-leerder aan Potchefstroom Gimnasium is Woensdagmiddag, 7 Februarie op die MC Roode-pad deur ‘n trok van sy fiets af gery. Philip was omtrent oorkant die @Fitness Health Club toe die trok hom van agter getref en hom van sy fiets af gery het. “Die trok het hom sowat 10 meter ver gegooi en hy was bewusteloos,” vertel ma Elna Moodie. “Dit was regtig ‘n ernstige ongeluk.” Elna sê verder dat die trok hom teen sy boud, rug, en skouer getref het. “Hy het ‘n vleesagtige hematoom op sy boud, sy skouer is gebreek en hy het verskeie wonde, skrape en snye, een waar hy selfs steke benodig het.”
Elna vertel dat daar verkeersbeamptes op die toneel was, maar dat hul nie die saak aan die polisie gerapporteer het
nie. “Dit is vir ons ‘n groot probleem. Hulle was veronderstel om die saak by die polisie aan te gee. Ek het toe die saak gaan aangee.”
“Die polisie was geskok omdat dit nie deur die verkeersbeamptes gerapporteer is nie, veral omdat dit so ‘n ernstige ongeluk was. Die verkeersbeamptes het beslis nie hul werk gedoen nie,” sê Elna.
Sy noem dat Philip ‘n kranige bergfietsryer is en dat hy ‘n spesifieke roete het wat hy volg wanneer hy oefen, insluitend ‘n stukkie op die MC Roode-pad.

Philip is ‘n kranige fietsryer. Foto: Verskaf.

“Daar was gelukkig weldoeners langs die pad wat hom gehelp het. Ruben van Breda, baie dankie.”
“Ons wil ook dankie sê aan Amorette Pelser en Helena Fourie wat Philip gehelp het. Hy was twee dae in die hospitaal en is vir twee weke afgeboek. Ons is dankbaar dat hy dit oorleef het en dat die Here mense oor sy pad gestuur het om hom te help,” sê Elna. Philip sterk tans by die huis aan.
Kol. Adele Myburgh het bevestig dat die polisie ‘n saak van onverskillige en nalatige bestuur ondersoek.
* Navrae oor die ongeluk is aan die J.B. Marks Munisipaliteit gerig, maar teen druktyd is geen reaksie ontvang nie

Related Articles

Back to top button