Local news

Gimmies verloor drie agtereenvolgende Finsbury B-liga wedstryde

'n Kolf-ineenstorting teen Eldoraigne was 'n slegte manier om die liga af te sluit nadat dit so belowend met twee seges begin het.

Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan is die afgelope Donderdag, 15 Februarie vir slegs 67 teen Hoërskool Eldoraigne van Centurion uitgeboul in hulle Finsbury B-liga kragmeting.

Gimmies se kolwers het ‘n nagmerrie dag beleef wat nie hulle talent weerspieël nie. James Wood met 12 het die meeste lopies geslaan, terwyl 13 bylopies die telling nog verder gehelp het.

Eldoraigne het die teiken in slegs 7.5 boulbeurte behaal en het sodoende ook die B-afdeling van die Finsburyliga verower.

Gimmies eindig algeheel vierde vanjaar. Gimmies het die liga volstoom begin met groot oorwinnings teen Hoërskool Monument (202 lopies) en Hoërskool Montana (9 paaltjies), maar met drie agtereenvolgende nederlae in ‘n ry teen Hans Moore, Kempton Park en Eldoraigne is hul kanse vir die beker geknak.

Gimmies se eerstes het die afgelope drie naweke veral moeilike tye met die kolf ervaar.

Hans Moore klop Gimmies se eerste span met 220 lopies nadat Gimmies vir 78 uitgeknikker is. Teen Kempton Park maak Gimmies se eerste span net 161 nadat Kempies 251/6 aangeteken het.

Gimmies se o.15A’s kon net een wedstryd wen teen Montana (met 4 paaltjies) in die Finsbury B-liga afdeling. Hulle moes ook die onderspit delf teen Kempton Park, Eldoraigne, Monument en Hans Moore.

Related Articles

Back to top button