Local news

Kuns, kunstig, kunsvasvrae

Potchefstroom se Kunsvereniging nooi alle belangstellendes om aan te sluit en deel te word van hul kuns en pret deur die jaar.

Potchefstroom se Kunsvereniging het Donderdag, 8 Februarie ‘n kunsvasvra by die Snowflake Venue aangebied. Elna Venter, ‘n plaaslike kunstenaar, het vrae oor vier Suid-Afrikaanse kunstenaars opgestel en die spanne interssante vrae rondom die kunstenaars en hulle werke gevra.
Lede van die kunsvereniging en ander deelnemers wat die aand bygewoon het, het onder andere geleer dat Walter Battis die vader van syskermdruk in Suid-Afrika was.
Nog ‘n interessante feit wat hul geleer het is dat Ester Mahlangu 98 jaar oud is en steeds haar Ndebelepatrone met haar vry hand skilder en glad nie ‘n liniaal gebruik nie.
Ander nie-tradisionele kunsvorme wat onder die soeklig gekom het, was Strijdom van der Merwe se landkuns en Helen Martins se “krukuns” of “Art Brut” wat uit draad, bottels en sement geskep is om beelde in haar tuin te skep.
“Die aand was ‘n reuse sukses met almal se bereidwilligheid om aan die vasvra deel te neem en ons het almal weer van voor af geleer watter wonderlike kunstenaars daar in Suid-Afrika is”, sê Venessa van der Westhuizen, voorsitter van die Potchefstroom Kunsvereniging.
Martie Bothma, kurator van die Snowflakegalery, het ook vir groot pret gesorg met partytjiefluitjies wat sy aan die deelnemers uitgedeel het.
Deelnemers moes op die fluitjies blaas om aan te dui dat hul gereed is om te antwoord. Elke span wat reg geantwoord het, het dan seepborrels geblaas.
Die kunsvereniging wil graag almal wat ‘n belangstelling het in beeldende kuns uitnooi om deel te word van die Potchefstroom Kunsvereniging.
Daar is ‘n jaarlikse lidmaatskapfooi van R175 wat gebruik word as fondse om sprekers te reël, werkswinkels aan te bied en spesiale geleenthede soos die kunswaardasiesessie van ‘n professionele waardeerder wat verlede jaar kunswerke antieke ware van plaaslike versamelaars waardeer het. Vanjaar beoog die kunsvereniging om ook om ‘n uitstappie na die kunsmuseum van die Tswane Universiteit te reël.
Indien daar mense is wat nie aan die vereniging wil behoort nie, maar steeds wil weet wat op die kunsfront van Potchefstroom gebeur, stuur gerus ‘n epos met jou kontakbesonderhede na potchkuns@gmail.com om uitnodigings na kunsuitstallings en ander kunsgebeure te ontvang.

Related Articles

Back to top button