Local news

Gimmies, KHS en Rustenburg die gunstelinge vir Saterdag se Interhoër-titel

Alle paaie lei na die NWU McArthur Atletiekstadion vir die 2024 Noordwes Interhoër waar agt skole Saterdag, 17 Februarie vir die gesogte titel sal baklei.

Potchefstroom Gimnasium, as die verdedigende kampioene, sal hulle greep op hierdie beker wil versterk. Hulle grootste teenstand sal van Klerksdorp Hoërskool (KHS) en Hoërskool Rustenburg (RHS) kom.

Verlede jaar was RHS tweede nadat Gimmies hulle met die aflosse geklop het. KHS was toe derde. Vanjaar gaan sake weer kop-aan-kop wees met sentimeters en tiendes van sekondes wat goud van silwer sal skei.

Ander deelnemende skole sluit in Hoër Volkskool Potchefstroom (wat die interhoërbyeenkoms as gasheerskool aanbied), Hoërskool Wesvalia, Hoërskool Lichtenburg, Potchefstroom Boys High en Potchefstroom Girls High.

Die aksie begin om 08:00.

Die Noordwes Interhoër gaan op Saterdag, 17 Februarie vir fantastiese aksie sorg. Hier is Simphiwe Nero (KHS), Liane Nel (Gimmies) en Lea Verster (Volkies). Foto: Wouter Pienaar.

Atlete om voor uit te kyk:

  • Die groot vraag sal wees of Gimmies se Sandri van Rooyen in die 100 m, 200 m en 100  m hekkies weer rekords kan breek en haar laaste Noordwes Skole Interhoër op ‘n hoogtepunt kan afsluit. Sy sal een van haar skool se groot sterre wees.
Sandri van Rooyen het drie rekord by die Gimmie-Prestige byeenkoms gebreek. Foto: Wouter Pienaar.
  • Op die baan is Lezanke Pienaar (Gimmies) een van die gunstelinge in die o.14 naellope met Zoey Gracie van KHS wat ook goud sal wil behaal.
  • Dianie du Preez (Gimmies) gaan ookhaar staal in die hekkies wil wys.
  • Lize van Zyl en Katelynn Fourie (albei KHS) sal ook vir goeie kompetisie in die o.15 naellope saam met Anika Botes (Gimmies) sorg.
  • Jenna van Dyk (KHS), Lea Verster (Volkies) en Carli Visser (Wesvalia) sal ook vir goeie atletiek in die o.16 ouderdomsgroep sorg.
  • Thlogi Kgosieng (seuns o.14), Simphiwe Nero (seuns o.15), Thabang Tsebiso (seuns o.16), Tyran Masango (seuns o.17) en Nevin Howard (seuns o.19) is nog KHS-blitste wat hierdie Saterdag in die naellope sal kook.
  • Gimmies se Lourens Jacobs, Zak Swanepoel en Volkies se Jason Pruis en AJ Welgemoed sal ook hulle spoed wil bewys.
Gimmies se Alri Verster is een van die gunstelinge in die middelafstande.
  • In die langafstande (3000 m) behoort KHS se Amogelang Tatai ook ‘n aanspraakmaker vir goud te wees.
  • Bertus van der Linde en Alri Verster is nog langasems van Gimmies wat dopgehou moet word.
  • Liané Nel sal ook een van die toppresteerders vir Gimmies in die verspring-item wees. Stefanie Bamm sal ook ‘n groot aanspraakmaker in die hoogspring vir Gimmies wees.
  • In die velditems is Gimmies se dogtersatlete ook op goeie vorm met Stephané Hook (dogters o.16 spiesgooi en gewigstoot) en Imke Bornman (dogters o.14 gewigstoot) wat talle byeenkomsrekords breek. Mariné Jacobs sal ook vir Gimmies met goud in gewigstoot en diskus wil wegstap. Martiné van Aswegen (Volkies) is ook een van die gunstelinge vir goud in die dogters o.15 gewigstoot en diskusgooi.
  • Logan Botes (Gimmies) was verlede jaar as die junior victor ludorum aangewys en sal weer in die diskus sy talent wil bewys. Nelius Willemse van Volkies (o.19) gaan sy krag in die gewigstoot-item wil wys.
Volkies se Nelius Willemse.
  • KHS bied vanjaar veral ‘n sterk aanslag in die spiesgooi-item met Mienke Cawood, Christiaan Jacobs, Marco Symmington, Marques Olivier en Ewald Jansen wat met goud kan wegstap. Jansen (o.19) is een van die groot sterre wat verlede jaar die Junior Statebondspele gewen het.
  • Rustenburg sal op die gebied van gewigstoot en diskus ook vir goud gaan. Donovan Mostert, Marné Botha, Nathan van Staden, Jan Paul Nel en Marili de Wet is van hul uitblinkers.

Related Articles

Back to top button