Local news

‘Laat geregtigheid geskied’ in ‘n gebroke samelewing

"Wat is geregtigheid, en hoe laat mens dit geskied?" Prof Chris Van Der Walt, verbonde aan die Teologiese Skool Potchefstroom gesels meer hieroor.

“Geregsdienaar is ‘n trefwoord, dienaar van die gereg.”
Prof. Chris van der Walt, verbonde aan die Teologiese Skool aan die NWU, is op die man af met wat geregtigheid beteken en hoe dit toegepas word. Of dan nie toegepas word nie, siende dat die gebrek daaraan een van die groot jakkalse in ons samelewing se wingerd is.
“Die hele storie kan eintlik deur ‘n goeie polisieman verduidelik word,” sê prof. Chris verder.
“Dink aan ‘n polisieman. ‘n Geregsdienaar. Hy werk deeglik, is baie fiks, baie sterk, hy is eintlik ‘n Sherlock Holmes, hy is regtig baie goed in wat hy doen. Maar die oomblik wat hy oneerlik is, is hy nie meer ‘n dienaar van die gereg nie. Dan laat hy nie meer geregtigheid geskied nie.”
Prof. Chris sit terug en sê: “Ek ry nou die dag op my motorfiets. Daar kom ‘n verkeersman verby my gery, reguit oor die stopstraat. Hy het nie gestop nie. Geen geregtigheid het geskied nie.
“Geregtigheid geskied wanneer daar reëls en waardes is waarvolgens daar geleef moet word en almal hou daarby. As jy ‘n moord gepleeg het, moet daar gevolge wees.” Prof.
Chris vertel dat ‘n vrou jare gelede haar man met ‘n skêr doodgesteek het. “Daardie tyd was dit vir maande op die voorblad. Nou haal ‘n moord baie keer nie eers die koerant nie.”
Prof. Chris praat oor die politici en gaan haal Jakobus 5 vers 12 aan wat sê: “Laat jou ja jou ja wees, en jou nee jou nee, dan sal julle nie veroordeel word nie.”
Hy wys daarop dat politici baie dinge aan mense belowe, maar dit nooit nakom nie.
“Dit is een van die dae verkiesing, en mense word A, B en C belowe. Mense glo nie meer dat die politici hul beloftes gaan hou nie, want hul ja is nie ja nie, en hul nee is nie nee nie.
“Dink net as politici se ja ja was en hul nee nee. Ons s’n sou ook wees. Dis hoekom die verkeersman oor die stopstraat jaag en die polisieman steel. Elkeen doen wat reg is in sy eie oë. Dis hoekom dit chaos is. Daar is nie ‘n stelsel wat geregtigheid laat geskied nie.”
“Dit skakel in by verlede week se gesprek oor die ‘rat race’ en identiteit. Ons identiteit het so vloeibaar geword dat ons nie meer weet wie en wat ons is nie. Vra die vraag: Wie is jy? Wie bepaal jou denke?”
Prof. Chris verwys na Matteus 5 vers 37 en sê die volgende: “God is die waarheid, die duiwel is die vader van leuens. Ons lewe ‘n leuen. Ons is nie vry nie, net God se waarheid kan jou vrymaak.”
“Gaan dink waarin jy jou identiteit plaas en wat jou denke bepaal. Soek die ewige waarheid in God en laat geregtigheid geskied.”

Related Articles

Back to top button