Verslag werp lig op die oorsaak van vliegtuigongeluk

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) staaf in die voorlopige verslag dat albei vliegtuie in die ongeluk parallel met mekaar gevlieg het net voor die botsing plaasgevind het.

Ongeveer ‘n maand en ‘n half nadat Casper Botha (53), sy vrou Estelle (54), en Hennie Viviers (63) in ‘n frats-vliegtuigongeluk op 29 Desember 2023 oorlede is, het die Burgerlugvaart owerheid (BLO) in ‘n voorlopige verslag gestaaf dat Botha-hul se vliegtuig in Viviers se spuitvliegtuig rigting gedraai en toe met Viviers gebots het.

Al drie is uit hulle vliegtuie gegooi voordat die vliegtuie die grond getref het. Die kajuit gedeeltes van albei vliegtuie het ook erge skade opgedoen en sodoende sou hul die ongeluk nie kon oorleef nie.

Die area waar die ongeluk buite Carletonville plaasgevind het.
Die wrak van die Botha’s se Cessna 182 vliegtuig. Foto: Burgerlugvaartowerheid.
Die Air Tractor AT-502A wat Viviers die lande mee bespuit het. Foto: Burgerlugvaartowerheid.

Casper, ‘n oud-Potch Gimmie-matrikulant van 1987 was ‘n bekende boer in die Potch en Ventersdorp-omgewings. Hy het Castello-boerdery besit. Viviers, oorspronklik van Kroonstad, het vir hom ten tyde van die ongeluk gewerk.

Die verslag toon ook aan dat die doeleindes van die ondersoek nie is om blaam op enige van die partye te plaas nie, maar om lugvaartveiligheid te bevorder en die die risiko van lugvaartongelukke of -voorvalle te verminder.

Volgens die verslag het die Botha’s net na 09:00 ‘n veldopname van die mielielande uitgeoefen teen ‘n hoër hoogte as Viviers, wat besig was om die mielielande te besproei.

“’n Ooggetuie het gesien hoe die twee vliegtuie toe langs mekaar vlieg. Kort daarna het ZS-STD (Botha) gedraai en met ZS-XPC (Viviers) gebots. Albei vlieëniers het beheer oor hul vliegtuie verloor en hulle het op ‘n buurplaas neergestort. Die insittendes is noodlottig beseer, en albei vliegtuie is vernietig,” lui die verslag.

Die spuitvliegtuig se sitplek was een van die wrakstukke op die grond.
Die vlerk van die Botha’s se Cessna 182 wat afgebreek het. Foto: Bugerlugvaartowerheid.

Die wrakke van die ongeluk het oor ‘n radius van 110m op die grond gelê. Die linkervlerk van die Botha’s se Cessna-vliegtuig is heeltemal afgeruk terwyl die vliegtuig ontsettende skade opgedoen het. Die linkervlerk is 40m van die hoofwrak gevind. Viviers se spuitvliegtuig se propeller is ook misvorm met een propellerlem wat afgebreek het, onder andere skade weens die ongeluk.

Geen meganiese of navigasie-gebrekke nie:

Die BLO noem in die verslag dat Botha op die dag die toestand van die mielielande tydens sy vlug waargeneem het. Hy het aan Viviers instruksie gegee om die mielielande te spuit.

Gewoonlik word ‘n helikopter gebruik om die doeleindes van die assessering wat Botha uitgevoer het, te doen. Op daardie dag het die helikopter wel ‘n tegniese probleem gehad. Vir daardie rede het Botha eerder met die Cessna die assessering gedoen.

Casper en Estelle Botha sowel en Hennie Viviers is in ‘n vliegongeluk op 29 Desember 2023 oorlede. Die Burgerluvaartowerheid (BLO) het ‘n voorlopige verslag oor die ongeluk uitgereik.

*Die verslag dui ook aan dat Viviers in Januarie 2022 in ‘n voorval betrokke toe sy spuitvliegtuig se linkervlerk vir Tiaan Daffie (23) getref het. Daffie was besig om ‘n video van dié spuitvliegtuig te neem.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version