Local news

Valkoog: Geen speletjies om in die middel van die pad te sit nie

'n Gevaarlike "speletjie" steek sy kop uit by verkeersligte in Potchefstroom waar haweloses in die middel van die pad sit en bedel.

‘n Tendens is tans besig om sy kop lelik uit te steek by verkeersligte in Potchefstroom. Op die hoek van Paryslaan (R53) en die N12 is daar haweloses wat geld bedel, maar in plaas daarvan om staande te bly, sit hulle en speel ‘n gevaarlike “kat en muis” speletjie.

Om net so op ‘n plastiek krat in die middel van ‘n ontsettende besige interseksie in die middel van die pad te sit, is omtrent soos om jou eie graf te begin grawe.

As die haweloses dink dat mense simpatie sal hê omdat hulle sit en swaarkry, dan sit hulle beslis die pot (of krat) mis.

Dit is ‘n ongeluk wat smeek om te gebeur, veral wanneer sigbaarheidsvlakke tydens skemer afneem.

Motoriste sien nie die persoon wat sit nie, aangesien die persone nie helder reflektiewe baadjies dra nie.

Plus, wie verwag nou eintlik ‘n persoon wat in die middel van die pad sit, as dit reeds relatief gevaarlik is om in ‘n besige pad te staan en bedel.

Potchefstromers het ook hul mening op sosiale media gedeel en genoem dat hulle al vorige kere amper ‘n ongeluk veroorsaak het en die straatbewoners met millimeters gemis het. Dit voel verder ook of daar al hoe meer mense by verkeersligte staan en bedel met die hoop om geld in te samel. Baie keer gaan daardie geld net na ‘n drankwinkel of dwelms toe.

So gaan die kringloop voort.

Dit wil ook voorkom asof die bedelaars miskien dink dat hulle geld kan eis indien hul raakgery word. Hoekom anders sal jy jou lewe in gevaar stel vir ‘n paar rand uit ‘n venster uit?

Die groot vraag is, hoekom moet motoriste wat geregtig is om die pad te gebruik, opdok as hulle hierdie “voetgangers” sou tref?

Die emosionele trauma om te weet dat jy ‘n persoon doodgery het, is nie iets wat enigeiemand wil ervaar nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button