Uit meer as 180 000 eerstejaarsaansoeke is daar teen Maandag, 5 Februarie alreeds byna 12 400 eerstejaarsstudente wat vir 2024 aan die Noordwes-Universiteit geregistreer is.
Die NWU se inskrywingsteiken oor al drie kampusse vir die akademiese jaar vir beide kontak en afstand is 12 904 studente.
Die afgelope naweek vanaf 3 Februarie het talle eerstejaars alreeds by hulle onderskeie koshuise op kampus ingetrek, terwyl ander ook hul plek by dorpskoshuise gevind het.
Dit was ‘n miernes van bedrywighede op kampus soos ouers hul nuwe studentekinders help intrek het. Die Registrasie en Orientasie (R & O) program het ook alreeds afgeskop met verrigtinge wat tot 10 Februarie sal duur.
Volgens NWU woordvoerder, Louis Jacobs, het daar reeds 1 011 eerstejaars in verskeie koshuise op die Potchefstroomkampus ingetrek. Daar kan 1 524 eerstejaars akkommodeer word.
“Daar is baie studente wie se registrasie tans nog voorlopig is, grootliks omrede hulle vir finale bevestiging rakende finansies, wag. Sodra hulle status finaal word, dan kan hulle ook in die koshuise intrek, sou hulle aangedui het dat hulle dit gaan doen,” noem Jacobs.
Algeheel is daar om en by 50 000 studente wat vir 2024 tot dusver geregistreer het, as terugkerende studente ingereken word.
Die NWU het in ‘n kennisgewing op hul amptelike webblad ook genoem dat die vertraagde vrystelling van die NSFAS-befondsing ‘n impak op baie studente se registrasie en toegang tot kampus(e) het.
“NSFAS het reeds van die besonderhede van befondsde studente bekend gemaak en ons verbind ons weer om waar moontlik te help om te verseker dat ons studente op 12 Februarie met hul akademiese programme kan begin,” lui dié kennisgewing.
Studente wat voorwaardelik geregistreer is, sal nie toegelaat word om van die universiteitsfasiliteite gebruik te maak of by universiteitskoshuise aan te sluit nie.
Die registrasieperiode duur tot Vrydag 9 Februarie met die akademiese program wat op Maandag, 12 Februarie sal begin.