Local news

Ongeveer 12 400 eerstejaars by NWU ingeskryf

Die NWU het 'n totaal van 180 000 aansoeke van voornemende studente ontvang.

Uit meer as 180 000 eerstejaarsaansoeke is daar teen Maandag, 5 Februarie alreeds byna 12 400 eerstejaarsstudente wat vir 2024 aan die Noordwes-Universiteit geregistreer is.

Die NWU se inskrywingsteiken oor al drie kampusse vir die akademiese jaar vir beide kontak en afstand is 12 904 studente.

Die afgelope naweek vanaf 3 Februarie het talle eerstejaars alreeds by hulle onderskeie koshuise op kampus ingetrek, terwyl ander ook hul plek by dorpskoshuise gevind het.

Anja Burger, Elandri Oosthuizen en Mieke Pienaar is opgewonde oor hul eerste jaar op kampus.

Dit was ‘n miernes van bedrywighede op kampus soos ouers hul nuwe studentekinders help intrek het. Die Registrasie en Orientasie (R & O) program het ook alreeds afgeskop met verrigtinge wat tot 10 Februarie sal duur.

Volgens NWU woordvoerder, Louis Jacobs, het daar reeds 1 011 eerstejaars in verskeie koshuise op die Potchefstroomkampus ingetrek. Daar kan 1 524 eerstejaars akkommodeer word.

Studente tydens die R & O verrigtinge wat in die amfiteater op Saterdag, 3 Februarie amptelik afgeskop het. Foto: NWU/Facebook.

“Daar is baie studente wie se registrasie tans nog voorlopig is, grootliks omrede hulle vir finale bevestiging rakende finansies, wag. Sodra hulle status finaal word, dan kan hulle ook in die koshuise intrek, sou hulle aangedui het dat hulle dit gaan doen,” noem Jacobs.

Die tweeling, Karla en Mieke Retief, gaan vanjaar by aparte koshuise hulle universiteitsloopbaan begin. Foto’s: Verskaf.

Algeheel is daar om en by 50 000 studente wat vir 2024 tot dusver geregistreer het, as terugkerende studente ingereken word.

Die NWU het in ‘n kennisgewing op hul amptelike webblad ook genoem dat die vertraagde vrystelling van die NSFAS-befondsing ‘n impak op baie studente se registrasie en toegang tot kampus(e) het.

“NSFAS het reeds van die besonderhede van befondsde studente bekend gemaak en ons verbind ons weer om waar moontlik te help om te verseker dat ons studente op 12 Februarie met hul akademiese programme kan begin,” lui dié kennisgewing.

Studente wat voorwaardelik geregistreer is, sal nie toegelaat word om van die universiteitsfasiliteite gebruik te maak of by universiteitskoshuise aan te sluit nie.

Leandre Cloete en Elodie van der Merwe is twee van talle studente wat aan die R & O program deelneem hierdie week. Foto: Wouter Pienaar.

Die registrasieperiode duur tot Vrydag 9 Februarie met die akademiese program wat op Maandag, 12 Februarie sal begin.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button