CommunityCompetitionsHealthKidsLifestyleLocal newsParenting NewsPrimary SchoolSchoolSport

Die effek van druk om te presteer op ons kinders

Druk op jong kinders kan jare lange skade veroorsaak.

Het jy geweet ‘n kind kan sy of haar ouers se liefde met sy of haar prestasie koppel? Intense druk kan ernstige gevolge hê, wat wissel van geestesgesondheidsprobleme tot verlaagde selfbeeld.

Potchefstroom Herald het ons lesers se opinie gevra om te hoor of hulle dink daar word te veel druk deur ouers op hulle jong kinders gesit om in sport te presteer. ‘n Skokkende 85% van ouers het ja geantwoord.

Pieter En Daleen Visser het op Facebook gesê dit is al waaraan skole deesdae gemeet word.

Marie Vlok het gesê: “Deelname is vir my meer belangrik as die uitermatige druk wat soms te veel is om net altyd die beste te wees. Ek het gesien wat pyn aan kinders en selfs afrigters doen, maar ek veronderstel dat dit nooit sal verander nie.”

Dr. Michelle Bach by The Centre of Health & Human Performance (CHHP), sê sonder ‘n bietjie druk, of dit nou sport of akademie is, sal niks ooit gebeur nie, maar ouers besef nie watter negatiewe effek uitermatige druk op kinders kan hê nie.

“’n Kind kan baie vinnig voel hy of sy is nie goed genoeg vir mamma of pappa wanneer hy of sy nie presteer nie. Kinders kan baie vinnig hulle ouers se liefde aan prestasie koppel. Kinders moet van jongs af daai gevoel van veiligheid en waarde by hulle ouers kry. Dit maak dat hulle selfvertroue het wanneer hulle ouer word en help ook om gesonde verhoudings met ander te bou.”

Bach gaan voort om te sê in verskeie ander lande word daar glad nie eers kompetisies vir sport voor die ouderdom van 12 gehou nie, sodat ‘n liefde vir sport eers ontwikkel kan word.

“’n Sekere aantal druk is nie ‘n slegte ding nie, maar baie ouers weet nie wanneer om die lyn te trek nie. Almal wil die beste vir hulle kinders hê, maar dit is belangrik dat hulle weet jou liefde en hulle waarde word nie aan hulle prestasies, sport of akademies, gekoppel nie.”

Hier is wat jy kan doen:

  • Moedig jou kind aan om hul bes te doen. Fokus op die proses, eerder as die resultaat.
  • As jy vind dat jy te veel druk op jou kind plaas, vra jouself af hoekom hul prestasie of sukses vir jou so belangrik is.
  • Praat met jou kind oor die sport/opdrag/prestasie waaraan hulle werk. Sit jou gevoelens opsy om plek te maak vir jou kind om hulle s’n uit te druk. Om jou kind die ruimte te gee om gesien en gehoor te word, sal hulle aanmoedig eerder as om hulle te laat voel hulle het jou teleurgestel.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button