CommunityLocal news

Boer sterk aan na koolstofmonoksied-vergiftiging tydens brand

Victor het met die bestryding van 'n veldbrand in die Rysmierbult-omgewing naby Potchefstroom gehelp.

Werner Victor (44), ‘n voorman by Castello Boerdery tussen Ventersdorp en Potchefstroom, is Saterdag in die Mediclinic in Potchefstroom opgeneem nadat hy gehelp het om brande tydens die naweek se brandkrisis in die Noordwes te blus.

Werner het Saterdag agter op ‘n bakkie die vuur beveg toe hy vuur ingeasem het en agteroor geval het. Quintin Hohowsky, wat die bakkie bestuur het, is die een wat Werner na die hospitaal gehaas het.

Werner se vrou, Lilianne, sê sy was saam met ‘n vriendin op pad na Werner toe om vir hom diesel te vat toe sy die nuus gekry het.

“My vriendin se man het ons gebel, maar dit het op dieselfde tyd oor die radio ook deurgekom. Ons dogter was saam met ons in die bakkie. Ons was beide histeries. Daar gebeur so baie goed gelyk en daar gaan so baie gedagtes deur jou kop in daardie tyd.”

Lilianne vertel sy was kalm toe hulle by die hospitaal opdaag. Hulle wou hom eers Vereeniging toe oorplaas, maar ‘n dokter wat besluit het om sy sorg oor te neem het gevoel dit is nie nodig nie.

“Hy het koolstofmonoksied-vergiftiging opgedoen. Hulle moes seker maak hy het nie enige breinskade opgedoen nie. Ek was so verlig toe hy uiteindelik uit die hospitaal ontslaan is. Mens besef nie hoe kort die lewe is nie.”

Werner, wat nie veel van die insident kan onthou nie, sê hy is net dankbaar hy lewe.

“’n Ongeluk gebeur so vinnig en mens weet nooit aan watter kan van die herstel lyn jy gaan wees nie.”

Werner vertel ook sy lyf is nog seer, maar hy gaan volgende week weer terug werk toe.

“My lyf is nog baie seer en my bors is styf, soos iemand wat erg onfiks is. Ek is wel weer gereed om terug werk toe te gaan.”

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button