Vriend, vertroueling, ‘koerant’, en sielkundige al in een

Talle dorpe en stede het in die vroeë jare ‘n manshaarkappersalon of twee/drie gehad. Dit was die bymekaarkomplek van oupas, ooms, mans en seuns wat elke maand hul hare daar ‘short back and sides’ (die ou borselkop) gaan sny het.

Talle dorpe en stede het in die vroeë jare ‘n manshaarkappersalon of twee/drie gehad. Dit was die bymekaarkomplek van oupas, ooms, mans en seuns wat elke maand hul hare daar ‘short back and sides’ (die ou borselkop) gaan sny het.

Dit was die standaard haarsny. Deesdae is dit mohawk, fades, spikes, pompadours en ‘n magdom ander.
Die haarkapper was ook die “koerant” van die dorp. Dáár het jy na die nuutste stories en skindernuus gaan luister. Dáár is nuus versprei, rugbyspanne gekies, politieke partye gestig en sommer partykeer uit die slaapkamer gepraat! Die haarkapper was jou vriend, vertroueling en klankbord. Sommige mans het sommer net soontoe gegaan, nie om hare te sny nie, maar net om die jongste nuus te hoor. Deesdae, sê Harold Wagner, bekende haarkapper in die stad, kom hulle net in, sit en sê nie ‘n woord nie.

Harold Wagner in sy haarkappersalon, Harold’s Classic Barber Shop.

Vir die haarkapper van daardie jare (en seker vandag nog) was sy salon sy hele bestaan. Dit was sý koninkryk en jy het daar as onderdaan gaan sit om hare te sny en te luister na wat hy te vertelle het. Hy was “gedress” in ‘n wit driekwart oorjas met ‘n skerppuntskêr, swart kammetjie en ‘n “cut throat” (outydse skeermes) in die boonste sak en ‘n handknipper, later elektries, in sy hand.
Dan was daar die stoel…die haarkapper se heiligdom. Dit was ‘n verstelbare stoel wat in die rondte gedraai het en vir die kleintjies is daar ‘n plank opgesit sodat die “haarkapperomie” kon bykom. Agter aan die stoel was die strop, ‘n breë leerband waarmee die “cut throat” skerpgemaak is. Daar was ook die klein nekdoekie en die groter wit doek wat oor die onderdaan gegooi is sodat die hare nie aan die klere vasklou nie. Dit is maar vandag nog steeds die praktyk.
Potchefstroom het sy kwota haarkappers gehad. Van hulle was ware kunstenaars wat jou hare gekap (of gestileer) het presies soos wat jy wou hê. Ander was, nou ja…maar ‘n bietjie slordig en rof. Baie omies het sommer botweg geweier om na ‘n sekere haarkapper te gaan, want as sy knipper jou nie geknyp het nie, het hy net te veel gepraat. Ander het juis gegaan om te gaan praat!
Maar die twee mees ikoniese haarkappers van daardie jare was ongetwyfeld Lawrie Wright en Gerrit Schoonhoven. Twee manne wat van jongs af al geleer het hoe om mans “netjies te laat lyk.”
Lawrie Wright was seker dié bekendste haarkapper in Potch. Ek het hom as oom Lawrie geken. Hy het in die veertigerjare as kind in ‘n haarkapper op Hartswater begin werk, maar die geldjies was maar skraps en toe besluit hy om Spoorweë toe te gaan. Soos die treine verby gestoom het, het die jong Lawrie die treindrywers se hare gesny, en selfs toe hy in Potchefstroom was, het die drywers hom van Welverdiend-stasie af laat weet dat hul op pad is en ‘n haarsny kort.

Oom Lawrie Wright saam met sy jongste seun en naamgenoot, Lawrie (jr). Beide was voorslag haarkappers.

In 1955 roep oom Lawrie die Spoorweë vaarwel en begin ‘n kafee, en later ‘n haarkappery op die hoek van Malherbe- en Von Wiellighstraat (nou Albert Luthuli). Op ‘n dag kom die destydse bevelvoerder van die Weermag by hom hare sny en vra of hy sou belangstel om in die Weermagkamp (soos almal dit daai jare geken het) hare te kom sny. Hy is ‘n kontrak aangebied en daar het oom Lawrie by die destydse SAWI (SA Weermaginstituut) se gebou sy salon begin.
Namate die Weermag al groter begin word het, het Harold Wagner en Koos Groenewald en later ook klein Lawrie (oom Lawrie se jongste seun) daar gaan uithelp. Hy het nog steeds die haarkappery in die dorp gehad.
Oom Lawrie was die leermeester van talle haarkappers in die dorp. Hy was nie net ‘n voorslag haarkapper nie, maar ook stadsraadslid en burgemeester van die dorp. Oom Lawrie is in Augustus 2006 oorlede.
Lawrie (jr.) het in die haarkappersalonne grootgeword. Hy het baie keer skoolvakansies en naweke uitgehelp met uitvee en ook hier en daar kinders se hare begin sny. Ná skool het Lawrie gaan studeer en skoolgehou in Evander. In 1975 het hy bedank en saam met sy pa in die besigheid gegaan. In 1976 het hy voltyds begin hare sny, maar aanvanklik eers in die oggende skool gegee by Mooirivier (hulle het hom gevra om te kom aflos) en in die middae sny hy hare.
Lawrie het later die besigheid alleen bedryf, terwyl pa Lawrie op ‘n plaas buite Potchefstroom geboer het. Hy het die besigheid stelselmatig uitgebrei. In 1994 het hy feitlik in elke Weermagkamp in die destydse Transvaal ‘n salon gehad. Daarna het hy die politiek betree en was hy in ‘n stadium onderburgemeester. Hy besit nog steeds ‘n salon in Beyers Naudélaan.
As ‘n jong knapie het oom Lawrie vir Harold Wagner onder sy vlerke geneem en hom geleer om hare te sny. Harold moes eers, soos baie ander haarkappers van daardie tyd, maar onder begin en het eers die salon gevee en knippers geolie. Hy het later sy vakleerlingskap onder oom Lawrie gedoen en is aangestel as haarkapper, teen R4 per week!
Harold het saam met oom Lawrie en Koos Groenewald in die Weermag-salon die Staande Mag-lede en die troepe se hare gesny. Harold sê hy kan nie meer onthou hoeveel koppe hy geskeer het nie, maar dit was baie.
Die troepe moes elke tweede week kom hare sny. Later jare het oom Lawrie vir Harold ‘n aandeel in sy salon aangebied, en kort daarna het hy sy eie salon in die dorp oopgemaak.
‘n Hele klomp haarkappers het ook onder sy leiding die “trade” geleer. Harold is tans die eienaar van Harold’s Classic Barber Shop in die West Acres-sentrum.
Kaapstad, November 1950. Die 38-jarige Gerrit Schoonhoven van Oldebroek, Holland, stap aan wal as immigrant met sy seun, Henk. ‘n Ruk later kom sy vrou, Jantjie en sy ander ses kinders ook Suid-Afrka toe. Gerrit en sy gesin vestig hulle later in Potchefstroom, waar hy ‘n haarkappery in Tomstraat 88 (nou Steve Bikostraat) begin het. Op sy Hollandse persoonsbewys het gestaan – beroepen: kapper. By sy salon kon mans vir twee sjielings (20 sent) hare sny en seuntjies ‘n sjieling (10 sent).

Oom Schoonhoven sny sy seun, Henk, se hare terwyl die res van sy familie toekyk. Dié foto is nog in Holland geneem.

Met sy van het oom Schoonhoven dit nie maklik gehad nie, want die studente het veral spottenderwys verwys na die korrelasie tussen sy van en beroep! Maar hy was baie gewild onder Puk- studente en dosente. Met die jooloptogte van daardie jare het die regsstudente ‘n vlot gehad wat hul die Hof van Hades genoem het.
Die vlot het sakemanne in die dorp “aangekla en beboet” vir sekere “oortredings.” Oom Schonie, soos die studente hom genoem het, het ook altyd deurgeloop en is beboet omdat hy studente se hare te kort sny! Hy het maar goedgunstiglik met ‘n paar pond, later rand, sy boete betaal.

Oom Gerrit Schoonhoven (inlas) het ook ‘n eiendomsagentskap op die Built bedryf terwyl hy hare gesny het.

Op 17 Mei, 45 jaar gelede, het die ondenkbare gebeur toe ‘n man ‘n tuisgemaakte bom by die landdroshof laat ontplof het waarin hy en ‘n prokureur gesterf het. Oom Schoonhoven was ook die dag by die hof en is ernstig beseer. Hy het vier weke later aan sy beserings beswyk.
Lawrie Wright en Gerrit Schoonhoven het, saam met ‘n hele paar ander haarkappers, ‘n nalatenskap gelaat wat ‘n unieke kultuur op die dorp geskep het.
Kom, gaan sit weer n bietjie by jou vriend dat hy jou kan “netjies maak” en luister wat hy te vertel het, want die lewe is net te kort om nie hierdie mense te beleef nie.

Exit mobile version