HABiTAT Potch Lentefees, groter, beter, lekkerder!

Sien die Lentefees foto's hier...

Luhan Bothma en Riaan de Kock. Foto’s: Marianke Saayman

Hierdie jaar was die HABiTAT Potch Lentefees anders as ooit tevore. Dit het nie net ‘n nuwe baadjie aangetrek en op die Joolplaas plaasgevind nie, daar was ook meer feesgangers as ooit. Die werkers by die kosstalletjies moes bontstaan om almal te bedien en die reuse parkeerterrein was propvol. Om hoogtepunte van die jaar se fees uit te lig is moeilik, maar die man op straat gesels veral oor die heerlike Color Run, waar oud en jonk kon ontspan in ‘n reënboog van poeierkleure. Die Staalbeer Barbarian Race het ook almal aan die gons.
Hierdie jaar se roete is deur Hanneke Dannhauser van BlackOps getoets en was van uitstaande gehalte.
Die weermag, wat soos altyd staatmakers is, het selfs aan die resies deelgeneem. Die Sterkman-kompetisie het ook bygedra tot die sukses van die fees – hier het deelnemers sowel as omstanders na hul asem gesnak.
Die verskeidenheid by die jaar se fees was beslis noemenswaardig. Van ‘n Dog-a-thon, wat almal in die gesin laat welkom voel het, tot ‘n pragtige sprokies Lentetee, het die fees werklik iets vir almal gebied.
Van die land se beste kunstenaars het vir vermaak gesorg. Jakkie Louw & Kevin Leo was snaaks, tog diep, terwyl Refentse (wat ook saam met Kosie die talentvolle konsertina-spelertjie) opgetree het, met sy unieke vertoning die gehoor gaande gehad het. Karen Zoid het verras toe sy vir Almur Smit (“Stilfontein” soos hy op The Voice gedoop is) nader gehark het uit die gehoor. Hierdie twee word deur baie feesgangers as die kersie op die feeskoek beskou.
Blackbyrd, wat by die Woodshed opgetree het, het gewys waarom hulle as drie van die land se beste sangeresse beskou word en Steffie Le Roux, ‘n oud Potchefstromer wat besig is om die leer van sukses te klim, het gewys hoekom sy nog hoë hoogtes gaan bereik. Die oggend vir pensioenarisse was ook baie suksesvol.
Hier kon gesmul word aan heerlike koffie van Decadent, Kruger Brau se bier geproe word en sommige feesgangers het sommer ook bietjie ge-langarm, want waarom dan nie!
Nadat ‘n groot verskeidenheid kosse en drankies almal weer nuwe energie gegee het, het baie van die feesgangers hulself by die Woodshed Kuiertuin gaan tuismaak. Hierdie ontspanne atmosfeer was presies wat Potchefstromers nodig gehad het na ‘n lang feesdag – veral nadat jy die mallemeule, reuse glybaan en reksprong getrotseer het. Die organiseerders van die fees het baie om op trots te wees, maar die grootste waardering aan Potchefstromers wat die jaar se fees een vir die boeke gemaak het. Sonder die ondersteuning en almal se vriendelike gesiggies was die fees beslis nie so groot sukses nie.
Vir nou – behou daardie #Lentefeesgees tot volgende jaar!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version