ML Fick samel duisende liters water in

Laerskool ML Fick het verlede week 21 000 liter water na Kroonstad vervoer.

Laerskool ML Fick het verlede week 21 000 liter water na Kroonstad vervoer. Hulle gaan hierdie week nog 22 000 liter by boorgate tap om ook na Kroonstad te neem. Kort na die nuus van die watertekort in Kroonstad het Laerskool ML Fick besluit om ‘n verskil te maak en te help. Met die inisiatief van mnr. Voltan Senekal van die beheerliggaam het mnr. Chris Kleinhans, die personeel en die leerders van ML Fick sowel as hul ouers saamgewerk om water in te samel vir Kroonstad.
So het ML Fick vir ‘n week lank gewerk aan hul waterinsamelingsprojek en is daar ‘n informele kompetisie gehou tussen onderwysers om te kyk watter klas die meeste water kan insamel.
Die wenklasse sal beloon word met ‘n draairoomys wat die skoolhoof, mnr. Lourie van der Merwe, borg.
Mnr. Faan Hanekom en sy personeel van Obaro het die water verlede Vrydag na Kroonstad vervoer. Van der Merwe sê hoe trots hy op alle personeel, leerders en hul ouers is vir hul samewerking met die projek. “Ons dank aan elkeen wat ‘n bydrae gelewer het, hierdie is omgee vir ons naaste. Ons dank ook ons Hemelse Vader vir ‘n uitkoms met heerlike reën in Kroonstad,” sê Van der Merwe.

 

Exit mobile version