Wees op jou hoede vir swaar weer

Waarvoor om uit te kyk wanneer die weer swaar is...

Reën en swaar weer word vir die volgende week vir Potchefstroom voorspel. Dit is baie goeie nuus, aangesien ons onlangs by ‘n droogte omgedraai het.
Dit is wel belangrik om te weet waarvoor om uit te kyk wanneer die weer swaar is. So positief soos die reën kan wees, so negatief kan weerlig wees, en met die groot skok van River Café wat onlangs weens weerlig afgebrand het, behoort ons almal op ons hoede te wees.
Potchefstromers het onlangs op die Potchefstroom Facebookblad hul opinies gelug oor of dit veilig is om te bad of te stort tydens swaar weer. Die meerderheid het gesê dat hulle verkies om dit nie te doen nie, want hulle het al gehoor hoe mense in ‘n bad of stort doodgeskok is.
Volgens prof. Jan de Kock van die Skool vir Elektriese-, Elektroniese- en Rekenaaringenieurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is dit nie baie waarskynlik dat iemand tydens swaar weer in ‘n bad of stort kan skok nie.
Volgens hom is jy veilig in ‘n bad, stort of selfs ‘n swembad, solank jy nie aan die krane vat nie, en al vat jy aan die krane is die risiko om te skok baie laag.
“Moenie onder ‘n boom of naby ‘n selfoontoring skuil nie,” is eerder die advies wat prof. De Kock wil gee. “Skuil eerder in ‘n gebou of in jou motor,” sê hy.
Volgens prof. De Kock is daar in Gauteng ‘n 70% kans dat ‘n selfoontoring ten minste een keer per jaar deur weerlig geslaan gaan word – gelukkig het ons nie so baie selfoontorings in Potchefstroom nie.
Dit raak ook soms benoud as mens ‘n op die pad is en daar breek ‘n donderstorm uit. Volgens verskeie bronne is jou motor ’n veilige plek om tydens ‘n donderstorm te wees.
Volgens die National Lightning Safety Institute is ‘n mens veilig binne ‘n voertuig, solank jy net aan geen metaalvoorwerpe binne die motor raak nie. Hulle stel voor dat jy langs die pad aftrek, jou noodligte aansit en met jou hande op jou skoot sit tot die storm verby is.
In ‘n episode van Top Gear het Richard Hammond getoets of ‘n mens werklik veilig is in ‘n motor wat deur weerlig getref word. Kyk die video hier:

www.youtube.com/watch?v=ve6XGKZxYxA

 

 

Exit mobile version