Ken jy vir Dewie kom Aardklop toe

Die uitdagende produksie sal jou laat dink oor wat regtig in die lewe aangaan.

Dewie de Jager is ‘n gewone ou. Hy is nie die tipe ou teen wie mammas julle matriekdogters waarsku of agter tralies gaan toesluit nie. Hy is nie die tipe ou wie se skoolbaadjie lyk soos ‘n korporaal in die weermag nie. Hy is nie die tipe ou wat rugby speel of saam met wie jy na die matriekafskeid toe wil gaan nie.

Hy is die ou by wie jy ‘n pen leen in die eksamen.

Hy is die ou wat agter jou sit in die wiskundeklas.

Hy is die ou wat van Gr.1 af op jou skoolfotos sit, maar nooit jou hare getrek het of jou probeer soen het met kissing touchies nie…

Hy is die ou wat skaam smile en dan wegkyk, want dit is embarrassing vir julle altwee, want wat is sy naam nou weer? Deon? Dewald? Donald? Whatever….dit maak nie regtig saak nie, want hy is net ‘n doodgewone ou.

Maar iewers tussendeur dit alles hunker die mens na een ding – aanvaarding.  Om te belong.  Om ‘n legacy groter as die Top 10 Dux agter te laat of die wendrie teen Calitz College te druk.  Om onthou te word vir iets onvergeetlik.  Om ‘n legend te wees waaroor almal gaan praat. Om te wees.  Oral. Teen die klaskamermure.  Op die voorblaaie.  Op Google search.  Om die stem te wees van hulle wat al van Gr.3 af nie meer praat nie.  Om die saviour te wees van elke loser wat elke pouse moet keer vir sy wickets, sy kosblik, sy kniekoppe, sy bril, sy ma se toebroodjies en sy snoepiegeld.

“Hulle sal my onthou.  My stem sal dreun deur gekwesde klaskamers en wit bordkryt-lyke…”

Legends are not born.  They are made. 

Ken jy vir Dewie?

Ken jy vir Dewie? is ’n drama wat die gehoor bekend stel aan Dewie de Jager. Die gehoor word ingenooi in Dewie se alledaagse lewe, sy psige, sy drome, sy denke en sy daaglikse waarnemings. Hulle word sy woordelose klasmaats, voyeurs wat toekyk, wat deel is van sy seer, sy frustrasie, sy haat en sy woede. Hulle weet. Hy is saam met hulle in die klas, hy sit agter hulle, langs hulle, maar niemand sê iets nie. Soos dit dikwels die geval is.

Die drama word aangebied as immersive theatre, of teater van meelewing, en gee die kyker ’n diepte-blik op die ware persoon wat agter die sluier van depressie en angs skuil – die produk van jare lange se geboelie. Wat dryf ’n doodgewone, stil en teruggetrokke jong seun tot sulke onmenslike dade? Wie is uiteindelik die skuldige party? Kon die onderwyser die gevaartekens sien?

Die produksie sal by die jaar se Aardklop by Weet en Sweet saal plaasvind.

Hier is die tye:

25 September om 13:30 & 16:00

26 September om 13:00 & 15:30

27 September om 9:30 & 12:00

28 September om 12:00 & 17:00

Die eerste vyf mense wat Potchefstroom Herald se kantoor skakel, sal dubbelkaartjies na die produksie ontvang.

 

Exit mobile version