Liewe Heksie kom by Aardklop kuier

Die produksie gaan tydens Aardklop 2024 plaasvind.

Ons almal se geliefde Liewe Heksie is terug. Dié keer span sy haar besem in as ’n visstok, maar dit sukkel maar om ’n vis te laat byt.

Sy raak vreeslik opgewonde as sy wel daarin slaag: “Haai oe, dis vir my so lekker as ek ‘n vis vang. Dan sing ek sommer ‘n liedjie en die vis wil saam sing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe. Of dalk gaap hy, omdat hy moeg is, dan gooi ek hom terug en vang ‘n nuwe ene.”

Maar hoekom raak Koning Rosekrans se forelle dan minder? Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie? Liewe Heksie het dringend julle hulp nodig.

Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie.

Margit Meyer-Rödenbeck is die nimlike Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf.

In 2022 het dieselfde span ook ‘n KKNK Kanna toekenning ontvang vir beste kinderteater en is in 2023 genomineer vir ‘n Fleur du Cap toekenning.

Die tydlose Liewe Heksie is perfekte vermaak vir die hele gesin.

Wat sê die gehore:

“Liewe Heksie, meesterlik vertolk deur Margit Meyer Rödenbeck, maak n deur na ‘n wonderwêreld oop.   ‘n Wêreld van stories en verbeelding waar kinders én volwassenes kan leer en onthou van droom en speel. Suiwer magic,” sê Zanne Stapelberg – Suidoosterfees- April 2023.

“Julle twee is ongelooflik. Die manier hoe julle die kindesr deelgemaak het van die storie was baie spesiaal. Ek het met tye gedink … woeee die kindertjies gaan nou vir Heksie van gen met haar weg vlieg, maar julle sê net ‘n woord of sing ‘n liedjie, dan is almal weer onder beheer en reg vir aksie. Baie dankie, dit was ‘n lekker lag-dag,” sê Heike Kriek – Die Boer – Durbanville- Maart 2023.

Die produksie sal by die jaar se Aardklop by Laerskool Mooirivier plaasvind.

Hier is die tye:

25 September om 15:00

26 September om 9:30

28 September om 9:30

Die eerste vyf mense wat Potchefstroom Herald se kantoor skakel, sal dubbelkaartjies na die produksie ontvang.

Fotokrediet: wwwhansvanderveencoza

 

 

Exit mobile version