Van hoenderboerdery tot ‘Mev. SA’

Michelle du Plessis, 'n 41-jarige hoenderboer van Delareyville en alumni van NWU, het aangekondig dat sy 'n semi-finalis is in die Mev. SA 2024/25-kompetisie.

Michelle du Plessis alumni van Tina Scholtz en NWU, asook ‘n dinamiese 41-jarige van Delareyville, het onlangs aangekondig dat sy ‘n semi-finalis is in die gesogte Mev. SA 2024/25 kompetisie. Du Plessis, wat bekend is vir haar unieke en uitsonderlike hoenderboerdery, bring ‘n vars perspektief na die kompetisie met haar onwrikbare passie vir landbou.

Michelle is nie net ‘n hoenderboer nie, maar ook ‘n voltydse werknemer wat nou die uitdagings van die Mev. SA-kompetisie aanpak. Haar eksotiese en skaars hoenders, wat gereeld op skoue gesien kan word, maak haar boerdery uiters uniek. Dit is egter haar visie en doelwitte wat haar regtig laat uitstaan. Sy wil haar platform gebruik om werklose vrouens in haar gemeenskap te leer hoe om hul eie hoenders vir vleis en eiers te voer, wat ‘n impak kan hê op beide honger en werkloosheid.

“Ek wil my vrou staan in ‘n man se wêreld van boerdery en wys dat ons vrouens ook ons hande vuil kan kry,” sê Michelle met ‘n breë glimlag. Haar droom is om te bewys dat vrouens net so suksesvol kan wees in die landbousektor, wat tradisioneel as ‘n mansdomein gesien word.
Die top 30 finaliste sal op 5 Julie 2024 aangekondig word, en Michelle benodig die publiek se steun om haar droom te verwesenlik
Michelle het haar akademiese agtergrond aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom Kampus voltooi, waar sy ‘n kursus in Internasionale Somatologie onder leiding van Tina Scholtz voltooi het. Hierdie kwalifikasie en haar vier jaar studie aan Potch het haar met die nodige kennis en vaardighede toegerus om haar verskeie rolle te balanseer en suksesvol te wees.

“Kom ons kry die eerste boertjie vrou met ‘n kroon!” sê Michelle opgewonde. Sy is vol selfvertroue dat sy met die gemeenskap se ondersteuning hierdie mylpaal kan bereik.
Die publiek word uitgenooi om Michelle se reis te volg en haar te ondersteun in hierdie belangrike kompetisie. Wie weet, dalk bring sy die kroon huis toe en bewys dat ‘n vrou van Delareyville die boerdery en skoonheidswêreld kan oorwin!

 

Exit mobile version