Rock and Roll is nie dood nie

As jy gedink het dat Rock and Roll dood is, dink weer. Memphis Panic, ’n plaaslike band, is ’n duidelike voorbeeld dat Rock and Roll nog springlewendig is.

As jy gedink het dat Rock and Roll dood is, dink weer. Memphis Panic, ’n plaaslike band, is ’n duidelike voorbeeld dat Rock and Roll nog springlewendig is. Dit is veral duidelik as jy al by een van hulle vertonings was. Hulle was Dinsdagaand weer in aksie by Texas Rock Bar tydens die weeklikse Jou Ma se Potch-vertoning. Die musiek is onverskonend hard, die energie op die verhoog kook dadelik en die interaksie met die gehoor is gemaklik. Memphis Panic skop die deur oop, terug na ’n tyd waar aanhangers van Rock and Roll in vervoering was en hul koppe op die ritme van die musiek geswaai het. Dit is nie iets wat net op die verhoog kop uitsteek nie. Die Herald het met die lede van Memphis Panic gaan gesels. Rudi Strydom (24), Vickus Kuhn (26), Dylan Durand (22) en Ruwaan Botha (22), leef vir Rock and Roll. “Onthou jy daai keer, by die show by Klein Kariba, toe jy van die stage af geval het,” lag Vickus, tromspeler, vir Rudi wat die hoofsanger is en ritmekitaar speel. “Ja jis daai was ’n baie lekker show. Ek moes aanhou sing, al was ek daar tussen die crowd. Ek het hierdie groot ou gesien en sommer dat hy saam met my die chorus doen,” lag Rudi. Talle soortgelyke staaltjies word geruil. My eerste gedagte is dat hier weer ’n groep is wat bloot net musiek speel tot hulle regte loopbane begin. “Ons is almal voltyds musikante. Hierdie is nie net ’n stokperdjie nie. Ons benader dit soos ’n besigheid,” vertel Vickus ernstig.

“Dit is ’n lekker besigheid om in te wees, maar dit is ons werk, en ons werk hard,” verduidelik Rudi.

Rudi, wat by Volkies in matriek was, verduidelik dat hy toe al besluit het dat hy niks anders as ’n musikant wil wees nie. Memphis Panic is nie ’n nuwe naam in Potchefstroomse musiekwêreld nie. Hulle het al by al die groter musiekfeeste, behalwe Aardklop, wat in Potchefstroom aangebied word, gespeel. Die groep het tog onlangs ’n gedaantewisseling ondergaan met twee nuwe lede in Dylan en Ruwaan. “Hulle was albei deel van ’n ander groep, ons het altyd saam by dieselfde plekke gespeel. So ons het mekaar geken en geweet watse goeie musikante albei was,” verduidelik Vickus. “Nadat van ons oorspronklike lede ander tipe musiek genres wou explore, moes ons twee nuwe lede kry. Ons het hard gedink en ek en Vickus het besluit om hulle te nader,” vertel Rudi. “Dit het baie vinnig net gewerk,” verduidelik Dylan. Ruwaan en Dylan het ’n oudisie kom doen en soos hulle sê, is die res geskiedenis. “Dit voel of daar nou 400% in die groep ingaan. Daar is ’n nuwe energie en momentum wat my baie opgewonde maak,” sê Vickus. Die groep werk tans aan ’n nuwe liedjie, wat hopelik gou klaar sal wees. “Die song gaan oor hoe graag jy dit wil maak. Wat is jy bereid om op te offer om te kom waar jy wil wees?” vertel Rudi. Dit is amper profetiese woorde van ’n groep wat niks terughou wanneer dit by hulle musiek kom nie. Beide Rudi en Vickus was in Volkies. Dylan het op sy beurt aan Ferdies gematrikuleer. Daarom is die keuse van die naam vir die ware plaaslike groep nie vreemd nie. “Vir ons gaan dit oor die produksie wat ons lewer. Die show moet groot wees. Dit moet amper ’n tipe van positiewe paniek onder die gehoor saai. Memphis Rock Bar was vir ons daardie tyd waaroor Rock and Roll gegaan het. Dit is ook waar ek my eerste show gehad het. Dit is soort van ons tribute aan die plek. Memphis Panic,” verduidelik Vickus oor die naam. Die groep musikante is reg om die volgende stap in hulle loopbaan te neem. Hopelik kan hulle vir nog baie jare die Rock and Roll vlag hoog vlieg. Memphis Panic het tans een enkelsnit wat op digitale platforms beskikbaar is, maar daar is ’n arsenaal van kopskud en lyfruk-snitte wat net wag om opgeneem te word.    

Exit mobile version