Resensie: O dié Donkie is ‘n wonderlike ding

In “Donkie” is daar baie humor, treffende kwinkslae en die op-die-man-af uitdagings wat skoolhoofde by voormalige Model C-skole ervaar.

Die tafel van ‘n skoolhoof by ‘n voormalige Model C-skool is van hoek tot kant volgelaai. Probleme drup spreekwoordelik van die tafel af en die 58-jarige hoof van die Hoërskool Hans Oosthuizen, mnr. Barry Swart, moet alles opvee sonder om ‘n merk te los.

In Frank Opperman se nuutste eenmanstuk “Donkie” wat by Aardklop 2019 draai, vertolk hy die rol van ‘n onder druk skoolhoof met vlieënde vaandels. Sy een voet is in die verlede en die ander in 2019 – dit is duidelik met nostalgiese verwysings na lyfstraf, dissipline, mentors en sy passie vir die onderwys. In teenstelling is die huidige skoolsisteem en gepaardgaande uitdagings iets wat hom dreineer – dit vind ‘n mens mooi uit in die uurlange monoloog voor ‘n volgepakte skoolsaal (die gehoor is die spreekwoordelike skoolsaal vol leerlinge van dié skool en Opperman se kookwater reaksie en opmerkings laat almal deel van die scenario voel.)

Die kombinasie van Dana Snyman (teks), Gerrit Schoonhoven (regie) en Frank Opperman maak vir ‘n eenmanstuk wat verskillende emosies by ‘n mens laat roer. In “Donkie” is daar baie humor, treffende kwinkslae en die op-die-man-af uitdagings wat skoolhoofde by voormalige Model C-skole ervaar. Ja, daar is bietjie oordrywing, maar vir die karikatuur van Barry Swart werk dit perfek. ‘n Mens kry empatie vir Swart wat met beide persoonlike en professionele kwessies elke dag moet werk. Die stemme vanuit alle oorde (ouers, personeel, die skool se beheerligaam) maak vir Swart mal en hy kort net rus. In ‘n mate is die stuk ‘n terapeutiese wekroep vir skoolhoofde in ons Suid-Afrikaanse uitdagende sosio-ekonomiese en sosiopolitiese landskap.

Baie vrae word gevra, soms sonder antwoorde. Tog is daar lig vir mnr. Swart, wat nog altyd sy man teen alle opposisie gestaan het. ‘n “Hansie” sal hy bly en sy merk los, al is dit die laaste ding wat hy doen.

“Donkie” bied ‘n dieper kyk na die onderwys wat definitief ‘n nuutgevonde respek vir onderwysers in jou sal laat borrel en dalk anders oor die belangrike rol van onderwysers in ons land sal laat dink.

Plek: Totius Saal

26 Sept 15:00, 27 Sept 17:00, 28 Sept 18:00, R140, 60 min, Komedie, Gesin, Afr

Exit mobile version