Entertainment

Carma se nuwe enkelsnit ‘Ek’s ’n Girl’ laat almal saam sing

Potchefstroom se gunsteling sangeres en liedjieskrywer, Carma, is terug met haar splinternuwe enkelsnit, Ek’s ’n Girl, ’n liedjie wat sowat ’n maand gelede op radio vrygestel is, en reeds baie goeie terugvoer ontvang het. Volgens Carma is dit ’n lekker-luister liedjie wat jou in die bui kry om uit te gaan, ’n lekker tyd te hê en jouself te geniet.

Potchefstroom se gunsteling sangeres en liedjieskrywer, Carma, is terug met haar splinternuwe enkelsnit, Ek’s ’n Girl, ’n liedjie wat sowat ’n maand gelede op radio vrygestel is, en reeds baie goeie terugvoer ontvang het.
Volgens Carma is dit ’n lekker-luister liedjie wat jou in die bui kry om uit te gaan, ’n lekker tyd te hê en jouself te geniet.

Dié liedjie is nie nét vir meisies nie, maar sy sê dat meisies die hardste saam sing. “Wanneer jy hierdie song luister hoor jy presies wie hierdie “girl” is en wie baie “girls” is wat hul voordele geniet in die lewe,” sê sy.

Carma is ’n plat-op-die-aarde onderwyseres van Kemptonpark wat in Potchefstroom kom studeer het, en dit sommer as haar nuwe huis aangeneem het. Sy sing al vandat sy vyf jaar oud is, maar het in 2012 eers besluit om dit ernstig te doen en in daardie jaar reeds haar eerste demo CD opgeneem. In 2014 het sy haar eerste enkelsnit Sonder Liefde (Dis Jou Keuse), wat sy self geskryf het, opgeneem, en het reeds diep spore op verskeie radiostasies daarmee getrap.

Dié enkelsnit is reeds oor meer as nege radiostasies landwyd, sowel as in Namibië, gespeel. Carma se liefde vir musiek is reeds van haar kindertyd af gekweek. Sy kom uit ’n musikale familie. “Ek glo gene is 30% van die pakket, waar passie en talent die res van die pakkie vol maak,” sê sy.

Sy sê sy wou nog altyd ’n sangeres of ’n onderwyseres word, en vandag vind sy haarself in beide dié beroepe.
Sy is voltyds ’n onderwyser, en beoefen haar sangloopbaan deeltyds, tot die tyd reg is vir haar om haar musiek ’n permanente loopbaan te maak.

“My passie om musiek te skryf, op te tree en te vermaak is my rede vir voluit lewe. Maar die Here se tyd is die beste tyd en so leer ek ook dat geduld en geloof die sleutel tot sukses is.”

Haar musiek is geïnspireer deur goeie geselskap, goeie musiek, goeie wyn en goeie en slegte ervaringe.
Haar mees onlangse lied (wat nog nie bekend gestel is nie), is geskryf nadat sy ’n woord gesien het op pad huis toe na kerk een aand.

“As ek nie dadelik die woord of idee neerskryf nie, dan kan ek maar vergeet om daardie liedjie te skryf.
Soos Roald Dahl ook sê: ‘a fresh idea is like a dream – if you don’t write it down as soon as you get it, it’s like forgetting a dream as soon as you wake up, if you don’t write it down’.”

Haar boodskap vir opkomende jong sangeresse is om nooit op te hou sing nie, en om nooit op te hou droom nie.
“Die Here maak eendag daai deur oop en dan moet jy gereed wees om die volgende stap te vat deur daai oop deur,” sê Carma.

“Leer ’n instrument speel, leer jou eie liedjies skryf. Vind uit wie jy is! Moenie wees wie ander wil hê jy moet wees nie.”

Volg Carma by: Facebook @CarmaII, Twitter @Carma_live_, Instagram @Carma_live of Youtube_Carma*.

Related Articles

Back to top button