Potch musikante lig dak by Jou Ma se Potch

MG Burger, Majo Rademeyer en JP Ferreira was op Dinsdagaand se line-up en hulle het die gehoor weggeblaas met hul besonderse stemme en vermoë om 'n musiekinstrument te speel asof hulle met dit in die hand gebore is.

Die Potchefstroomse kuierplek, Texas Saloon, was oorvol toe drie plaaslike kunstenaars Dinsdagaand (25 Julie) hul talente op die verhoog vertoon het. Dit was weer te danke aan die musiekbeweging, Jou Ma se Potch, wat poog om plaaslike kunstenaars die geleentheid te gee om op te tree en Potchefstromers te wys wat goeie musiek is.

Die twee stigters van Jou Ma se Potch, Frankie Bielfeld en Eddie Hyde. FOTO: Marianke Saayman

MG Burger, Majo Rademeyer en JP Ferreira was op Dinsdagaand se line-up en hulle het die gehoor weggeblaas met hul besonderse stemme en vermoë om ‘n musiekinstrument te speel asof hulle daarmee in die hand gebore is.

MG Burger. FOTO: Marianke Saayman

MG Burger is ‘n trotse Potchefstromer wat nie net goed kan sing nie, maar ook die kitaar en mondfluitjie kan speel asof hy dit nog altyd doen.

Hy is ‘n derdejaar tegniese onderwysstudent aan die NWU se Potchefstroomkampus. MG het op hoërskool begin kitaar speel, maar sê dat hy nooit sou droom dat hy eendag sou sing ook nie. “Ek was aan die begin in elk geval so vals soos nog iets,” sê hy.

Met tyd, oefening en ‘n ma wat hom geleer het hoe om noot te hou, het MG stadig maar seker sy stem gevind. Sy oom, André Roodt, is sy grootste rolmodel en het baie van wat hy weet van kitaar speel en sing, vir hom geleer. MG is ‘n aanhanger van ouer musiek en vind veral sy inspirasie by Johnny Cash, David Kramer en Theuns Jordaan. MG komplimenteer sy unieke klank met ‘n mondfluitjie.

Majo Rademeyer. FOTO: Marianke Saayman

Majo Rademeyer se naam lui dalk ‘n klokkie by baie Potchefstromers. Sy is al gesien waar sy by verskeie geleenthede soos Mnr. en Mej. Kampus en JOOL optree. Majo se unieke stem en onkonvensionele lirieke is iets wat baie mense geniet.

Majo is ‘n tweedejaar Geologie en Plantkunde student aan die NWU se Potchefstroomkampus. Sy sê dat dit gepas is omdat haar lirieke grotendeels geïnspireer word deur die natuur en sy lief daarvoor is om metafore uit te dink en te sinspeel met minerale. “Dis my nerdy secret,” bieg sy.

Sy het begin kitaar speel toe sy 16 was en die heel eerste liedjie wat sy leer speel het, was Hotel California van The Eagles. Laasgenoemde en Pink Floyd is twee van haar helde hoewel sy altyd sal terugval op Eric Clapton en Muddy Waters wanneer sy by die basis van ‘n liedjie sit.

JP Ferreira. FOTO: Marianke Saayman

Die aand is afgesluit op ‘n hoë noot met die baie talentvolle JP Ferreira wat sy talente op beide die akoestiese en elektriese kitaar kom vertoon het. Hy het die rock vibes aan die gang gesit met sy kopskud-klanke.

JP Ferreira is ‘n finalejaar IT student aan die NWU se Potchefstroomkampus. Hy is van die ouderdom van 6 klassiek opgelei in klavier en het op 13-jarige ouderdom homself leer kitaar speel. Sy styl word meestal beïnvloed deur Jimi Hendrix, John Frusciante van Red Hot Chilli Peppers en David Gilmour van Pink Floyd. Hy speel solo sowel as vir die groepe Rat King en Preju A.N.D.

“Ek speel net in projekte waar mense nie bang is om iets oorspronklik te doen nie,” sê hy, so moenie van dié kunstenaar verwag om gewilde saamsing-liedjies te speel nie.

Jou Ma se Potch bring plaaslike talent gratis na jou toe elke Dinsdagaand by Texas Saloon.

Hier is nog foto’s

JP Ferreira. FOTO: Marianke Saayman
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version