Kunstefees: Doen nou aansoek vir produksies en stalletjies

Reëlings vir die Potchefstroom Kunstefees is fluks aan die gang en aansoeke vir produksies en stalletjies kan nou gedoen word.

Reëlings vir die Potchefstroom Kunstefees is fluks aan die gang en aansoeke vir produksies en stalletjies kan nou gedoen word.
Nominasies uit die geledere van Potchefstroom om in die direksie of in die direksiekomitees te dien, word ook nou ingewag.
Dit volg nadat die groep van Aardklop-belanghebbendes, wat bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Potchefstroom Stadsraad, gemeenskapsleiers uit Potchefstroom, die Noordwes-Universiteit, stigtersborge asook ander borge en medewerkers van Aardklop Kunstefees oor jare, op Donderdag 5 Mei vergader het om verder te praat oor die Potchefstroom Kunstefees. Dit word vanaf 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom gehou.
Japie Gouws, woordvoerder van die groep, het bevestig dat daar volstoom gewerk word aan die beplanning van alle aspekte van die fees.
Die proses is aan die gang om ‘n maatskappy sonder winsbejag te stig, waarin alle sake van die fees hanteer sal word. Die direksie van die maatskappy sal binnekort aangestel word en daar word versoek dat nominasies uit die geledere van Potchefstroom om in die direksie of in die direksiekomitees te dien, nou ingedien word. Kundighede wat benodig word, is onder andere finansies, kunste, gemeenskapsbetrokkenheid, regskundigheid en bemarking.
Skriftelike nominasies met kort CV’s van die genomineerdes, geteken deur die persoon wat nomineer en die persoon wat genomineer word, met volledige kontakbesonderhede, kan per e-pos gestuur word aan Potchfeesprogram@gmail.com. Die sluitingsdatum is 27 Mei.
Die proses om aansoek te doen vir produksies het ook nou begin en skriftelike aansoeke kan per e-pos gerig word aan Potchfeesprogram@gmail.com. Die sluitingsdatum is ook 27 Mei.
Aansoek vir stalletjies (op die feesterrein op die Bult) kan nou per e-pos gestuur word aan Potchfeesstalletjies@gmail.com. Die sluitingsdatum is 24 Junie.
Daar word tans hard gewerk om die feeskantoor reg te kry – die nuwe adres van die feeskantoor gaan wees Molenstraat 69, Potchefstroom.
Gouws het verder gesê dat daar tans nog gesprek gevoer word met die Aardklop Stigting oor die moontlike gebruik van die naam, Aardklop. Intussen gaan die reëlings egter volstoom voort onder die naam Potchefstroom Kunstefees.
Hy het weer eens almal bedank vir die positiewe gesindheid oor die nuwe fees en beklemtoon dat daar nog baie werk voorlê. Aankondigings oor die feesbestuur sal binnekort gemaak word. Daar is tans nog gesprekke aan die gang om die nodige aanstellings te finaliseer.

Exit mobile version