BlogsEntertainmentOpinions

DVD van die week: ‘n Pawpaw vir my Darling

7½/10 vir Koos Roets se Pawpaw vir My Darling...

‘n Pawpaw vir my Darling is ‘n Koos Roets film wat propvol humor en karakter is.
Tsjaka, ‘n pavement special, vertel die storie van sy eienaars, die Beeslaer-familie wat in 2003 in Damnville woon.
Vleis (Deon Lotz) en Soufie (Deirdré Wolhuter) Beeslaer is ‘n tipiese eenvoudige Damnville gesin wat ook maar net die beste wil hê vir hul drie kinders: Effens verfynde Elvis (Hannes Brümmer) wat huis toe kom met ‘n Indiese meisie, hul lesbiese dogter Rusty (Martelize Kolver) wat met geldelike probleme sit, en die rebelse dogter Mabel (Jana Nortier) wie se grootste droom is om soos Charlize Theron weg te kom van haar omstandighede en ‘n Hollywood ster te word.
In ‘n karavaan in die agterplaas woon Soufie se ouma (Lida Botha) wat nou en dan episodes kry wat haar toelaat om in die toekoms in te sien.
Vleis se ma Girla (Marga van Rooy) kom ook nou en dan daar aan, elke keer met ‘n ander kêrel aan die sy – ou gladdebek Tango du Toit (Marcel van Heerden) wat homself uit enige situasie kan charm en die bitterbek Hollander Salty Sprinkelgras (Jan Engelen).
Buiten die Beeslaers se eie probleme, moet hulle nog huishou met hul buurmense. Hannie (Sandra Prinsloo) en Huibie (Hélène Truter) is alewig besig om almal te beskinder terwyl Basil (Willie Esterhuizen), Gissie (Brümilda van Rensburg) en hul tweeling dogters ‘n punt daarvan maak om die Beeslaers keelvol te maak.
Wanneer die klomp bymekaar kom is daar alewig ‘n gekners van tande en ‘n getrek van hare. Geen wonder sersant Kennedy Banda (Dambuza Nqumashe) is al op bystand wanneer dit kom by die Beeslaer-huishouding nie.
‘n Pawpaw vir my Darling is nie net ‘n lekker lag nie, maar raak ook aan kwessies wat tydens die begin van die nuwe bedeling in wit huishoudings was. Die film is lig en maklik om te kyk en mens kan nie help om geheg te raak aan elke karakter se individuele persoonlikheid nie – maak maar reg om lekker te lag.

*‘n Pawpaw Vir My Darling het ‘n ouderdomsbeperking van 12PG weens sterk taalgebruik.
*Hierdie fliek kry ‘n gradering van 7½/10. Die storie is baie lekker om te kyk en laat mens regdeur skaterlag. Dit kan uitgeneem word by DVD4home op die hoek van Retief- en Govan Mbekistraat of kontak hulle by (018) 293 3895.

Sien die lokprent hier:

 

Related Articles

Back to top button