Pret in Potch vir minder as R200

Dit is altyd lekker om vis te vang by Potchefstroom dam...

Dit is deesdae te duur om enige iets te doen, daarom bly die meeste mense naweke en vakansies maar by die huis. In Potchefstroom kan jy sommer baie dinge doen wat minder as R200 kos.
Potchefstroom is ‘n natuurryke stad met ‘n lang kulturele geskiedenis en die tuiste van kunsliefhebbers, jonk en oud. Daar is soveel dinge wat jy kan geniet en wat nie te duur is nie, byvoorbeeld:
Vang vis by Potch dam:
Die Potchefstroom Lakeside Holiday Resort, of beter bekend as Potch dam, is die perfekte plek waar jy kan wegbreek van die huis af, en nie te ver hoef te ry nie.
Potch dam is net verby die NWU Potchefstroomkampus, waar River Cafe was.
Daar word jaarliks verskeie pret en opwindende aktiwiteite by die dam gehou, soos die jaarlikse Dragonboat-resies en verskeie koshuisfunksies. Jy kan egter die dam enige tyd besoek en selfs vir ‘n naweek daar gaan oornag. Die gras is altyd groen en daar is oorgenoeg skadubome vir jou om onder te ontspan en net ‘n boek te lees.
Dis ook ‘n baie lekker plek om saam met jou vriende te gaan braai en rustig oor die water te kyk.
Die Potchefstroom dam is in 1908 gebou om besproeiing vir die Mooibank nedersetting en die eksperimentele plaas (tans bekend as die Landboukollege van Potchefstroom) te voorsien.
Alhoewel die dam steeds vir besproeiingsdoeleindes benut word, is dit bekend vir die verskillende spesies visse wat daar gevang kan word.
As jy nodig het om bietjie agter die boeke weg te kom, gryp ‘n paar vriende, ‘n kombers en piekniekmandjie en natuurlik jou visvangtoerusting en gaan geniet die water van die Potchefstroom dam.
Wat dit jou gaan kos:
Om in te gaan by die hek betaal jy R 38 per persoon en R16 per kar. Jy kan die kleinspan saamvat vir R22 per kind.
Jy kan maklik vir minder as R 200 ‘n lekker middag by die dam spandeer.

Exit mobile version