Pret in Potch vir minder as R200

Hou piekniek by die vlei...

Dit is deesdae te duur om enige iets te doen, daarom bly die meeste mense naweke en vakansies maar by die huis. In Potchefstroom kan jy sommer baie dinge doen wat minder as R200 kos.
Potchefstroom is ‘n natuurryke stad met ‘n lang kulturele geskiedenis en die tuiste van kunsliefhebbers, jonk en oud. Daar is soveel dinge wat jy kan geniet en wat nie te duur is nie, byvoorbeeld:
Hou piekniek by die vlei:
Potchefstroom is gelukkig om een van die mooiste stede in die Noordwes te wees met die pragtige Mooirivier wat daar deurvloei en verskeie ander strome wat uit die Mooirivier spruit.
Dit hou die stad mooi en groen en bied baie verskillende romantiese piekniekplekke.
Kies ‘n plekkie naby die rivier sodat jy en jou metgesel die water oor die klippe kan hoor spoel.
Ek stel voor dat jy ook nie jou kombersie te naby aan die wal van die rivier gooi nie, netnou rol iemand per ongeluk in die water in.
Met Valentynsdag agter die rug is ek seker ‘n paar manne is nou opgelei in die kuns van piekniek hou.
Die mandjie is belangrik… sonder ‘n piekniekmandjie kan daar nie ‘n piekniek wees nie. Of jy dit nou leen by ‘n tannie of self een maak, moenie jou meisie op ‘n piekniek vat as jy nie ‘n mandjie het nie. Verder is die kombers natuurlik belangrik, en bring ‘n paar kussings ook, net vir ingeval. ‘n Wenk: moenie laataand gaan piekniek hou nie – jy gaan sukkel om te sien en gaan verseker al wat ‘n glas is omstamp en dan gaan jy boonop nog deur muskiete ook opgevreet word.
So as jy ‘n onromantiese Valentynsdag gehad het, en jou meisie nou so effens koud teenoor jou is, dan is daar altyd kans om op te maak daarvoor deur die perfekte piekniek te hou.
Wat dit jou gaan kos:
Gryp ‘n kombers en kussings van jou bed af en leen ‘n mandjie by iemand, dan hoef jy net te betaal vir ‘n lekker bottel wyn wat jou so R60 gaan kos en die res kan jy gebruik vir vingerhappies soos kaas en mossels op soutkoekies, skyfies, vrugte en koue vleise. Alles behoort jou onder R200 te kos – behalwe as jy ‘n baie bedorwe meisie het… dan kan ek jou ongelukkig nie help nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version