CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Opleiding in groenteverbouing werp groente en entrepreneurs af

‘n Projek om werklose mense in groenteverbouing op te lei, het gesorg dat talle die geleentheid aangegryp het om in ware entrepreneurs te ontwikkel.

‘n Projek om werklose mense in groenteverbouing op te lei, het gesorg dat talle die geleentheid aangegryp het om in ware entrepreneurs te ontwikkel. Diegene wat nie genoeg grond het om op groter skaal te plant nie, verskaf ook nou vars groente vir hulle eie huishouding.

Twee maatskappye, Skills for All en SUNfarming, wat die nood in werkloosheid gesien het, het saamgespan om gratis opleiding aan werklose mense te bied.

Hannes du Plessis (Skills for All) en Karel Jooste (SUNfarming) in die groentetuin by die International Essemblies of God Kerk. Foto’s: Venessa van der Westhuizen

Die projek het verlede jaar afgeskop en sover het meer as 1 160 individue al opleiding ontvang. SUNfarming verskaf fondse om die opleiding moontlik te maak en die nodige implemente en saad aan te koop.

Die opleiding vind by skole en klinieke plaas waar ‘n groentetuin dan gevestig word. Dié tuine by die skool en klinieke word in stand gehou deur vrywilligers wat die opleidingsprogram bywoon en die groente word vir voedsame maaltye by die skool gebruik.

Tydens so ‘n opleidingsessie, wat oor vyf dae aangebied word, ontvang kursusgangers implemente en voorraad wat nodig is om hulle eie tuintjies te begin. Dit sluit ‘n tuinvurk, saad, gifspuit, saadlaaie en ontkiemingsmateriaal in. Kursusgangers word ook van een maaltyd per dag voorsien en wanneer hulle die kursus aan die einde voltooi, ontvang hulle sertifikate en ‘n 5 kg sak meel wat met vitamine en minerale verryk is.

“Ons sien so baie mense in Ikageng en Promosa wat nou hulle eie groentetuine in hulle erwe begin,” sê Hannes du Plessis. Hy doen opvolgbesoeke aan mense wat groentetuine begin om raad en motivering te gee.

Eliza Ramatseng is een van die kursusgangers wat woeker met haar opleiding. Sy het met boerbokke geboer, maar nadat dit tydens die Covid-19-inperking verlede jaar gesteel is, was sy genoodsaak om haar laaste paar bokke te verkoop en kos vir haar gesin te koop. Sy woon by die Matlwang nedersetting en het moeite gedoen om die kursus by te woon.

Na die kursus was Eliza geïnspireerd en het eers groente op ‘n klein lappie grond geplant. Daarna het sy met die wins meer saad aangekoop en uitgebrei. Haar tuin word al groter en sy het nou al ‘n watertenk en ‘n struktuur met skadunet wat haar groente teen hael beskerm.

Eliza, haar man en haar dogter werk alleen in die tuin en dit verskaf aan hulle baie plesier om te sien hoe die groente groei. Hulle maak goeie winste uit hulle boontjies, uie, groenpepers en pampoen.

Mense wat graag die kursus in groenteverbouing wil bywoon, kan Jerry Mngxitama by 061 180 1385 skakel. Datums van kursusse word vooraf bepaal en opleiding is gratis. Die enigste vereiste is dat kursusgangers die kursus vir vyf agtereenvolgende dae moet bywoon. 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button