SportSport

NWU spelers eindig laaste wedstryd op groot hoogtepunt

Voorlangs was die NWU puik en het talle geleenthede vir hulle top agterspelers gegee.

Die NWU se eerste rugbyspan is die 2021 Memorialbeker-kampioene. Dit volg nadat hulle op 23 Oktober hul onoorwonne seisoen met ‘n 67-3 slagting teen Wits op die Fanie du Toit Sportgronde afgesluit het.

Die Memorialbeker word deur die top klubspanne in die Leeus Rugbyunie gespeel en die NWU het vanjaar bewys dat hulle een van die top rugbyklubs is.

Die NWU het altesaam 11 drieë teen Wits gedruk met die linkervleuel, Eugene Hare, wat vier hiervan ingesamel het in ‘n skitterende laaste wedstryd vir die NWU.

Foto’s: Wouter Pienaar

Die flanke Jandré de Beer en Chris Vermaak, die heelagter, Jaco Pretorius, Rehan le Maitre, skrumskakel Aphelele Mdaka en die vleuel, Billy Posthumus, het vir die ander sewe drieë gesorg. Eugene Hare was nie die enigste speler wat sy laaste wedstryd in ‘n NWU trui gespeel het nie, met sewe ander spelers wat die Fanie ook op ‘n hoogtepunt verlaat.

Van links na regs agter is Duren Fillies, Johan Scheepers, Arno Gustavson, Ruan Groenewald,Marco Donges, Rehan Baumann,Eugene Hare. Voor is Michael van Rensburg en Cameron Dorfling

Hulle is die staatmakers, Johan Scheepers, Arno Gustafson, Ruan Groenewald, Marco Donges, Rehann Baumann, Michael van Rensburg en Cameron Dorfling. Duren Fillies verlaat ook NWU Rugby na ‘n lang tydperk as speler. Hy was ook die afgelope paar jaar ‘n dosent by die universiteit.

Die wedstryd teen Wits was ‘n fenomenale spanpoging waar beide voor- en agterspelers alles ingesit het om seker te maak dat die beker in Potch staan. Vermaak het ‘n briljante wedstryd op oopkantflank gehad en die bal met ywer gedra, lakke met mening uitgevoer en ook in die losgemaal sake vir Wits bemoeilik.

Agterlangs het Jaco Pretorius, Hare en Posthumus vir goeie aanvallende rugby gesorg en die harde werk voorlangs met skitterende agterlyn drieë afgerond.

Ter opsomming was die NWU elke naweek net te goed vir hul opposisie in vanjaar se Memorialbeker. Slegs UJ en Raiders het die NWU werklik laat sweet.

Hier is die uitslae:

NWU teen Pirates: 34-16

NWU teen UJ: 29-24

NWU teen Alberton: 79-0

NWU teen Germiston: 78-34

NWU teen Randfontein: 52-7

NWU teen Wits: 67-3

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button