SportSport

Varsitybeker Prestasiemeter: Pukke teen Tukkies

Elke week in vanjaar se Varsitybeker gaan Potchefstroom Herald verslag lewer oor NWU Pukke se vertoning met ’n puntetoekenning uit 10 vir elke speler. Ronde 1: Pukke teen Tukkies op die LC de Villiers-stadion (Pukke wen 38-15) 15 – Rhyno Smith (10/10) Die speler van die wedstryd het weer eens bewys dat hy goud werd …

Elke week in vanjaar se Varsitybeker gaan Potchefstroom Herald verslag lewer oor NWU Pukke se vertoning met ’n puntetoekenning uit 10 vir elke speler.
Ronde 1: Pukke teen Tukkies op die LC de Villiers-stadion (Pukke wen 38-15)
15 – Rhyno Smith (10/10)
Die speler van die wedstryd het weer eens bewys dat hy goud werd is vir Pukke. Smith het met sy aanvallende styl vele vraagtekens vir Tuks se verdediging verskaf en ’n groot aandeel in twee drieë gehad. Sy skopwerk beide pale toe en vir taktiese besit, was foutloos.
14 – Lucian Cupido (8/10)
Cupido is stelselmatig besig om te wys wat in hom steek. Verwag om nog groot dinge hierdie toernooi van hom te sien. Hy gooi ’n ongelooflike aangee om Pukke se skouspelagtige tweede drie te bewaarheid. Goeie hande en spoed op die aanval en verdediging.
13 – Sylvian Mahuza (7.5/10)
Pukke se goue seun is terug waar hy hoort. ’n Mens wil hierdie man nie spasie gee nie en hy het sy kwaliteit bewys met ’n wel afgeronde drie in die hoekie.
12 – Henko Marais (6/10)
Marais het ’n stil tog soliede wedstryd gehad. Was goed op verdediging, maar het nie uitgestaan op die aanval nie.
11- Dean Stokes (7/10)
Hy het ’n goeie eerste 20 minute gehad en gereeld vir werk gesoek. Hy was ook goed onder die hoë bal. Het wel later weggeval en nie so ’n groot impak gehad nie.
10 – Benhard Janse van Rensburg (9/10)
Wat ’n toetrede tot die Varsitybeker was dit nie vir dié jong losskakel nie! In ’n sleutelposisie was hy uitstekend en het die agterlyn soos ’n generaal aangevoer. Op verdediging was hy ook sterk en het sy opposisie nommer 10 een keer briljant grond toe gevat met ’n goeie laagvat.
9 – Malherbe Swart (7.5/10)
Malherbe het gedoen wat hy moes en was altyd lewendig in sy posisie. Sy balverspreiding was flink en vinnig maar sy besluitneming in die tweede helfte kon skerper gewees het.
8- Marno Redelinghuys (6/10)
Verlede jaar se uitblinker het ’n middelmatige wedstryd gehad en was nie sy geharde self nie. Hy het ’n paar strafskoppe afgestaan en was soms onnodig aggressief. Hy verrig goeie werk by die afbreekpunte.
7 – Jeandré Rudolph (8/10)
Kaptein fantasties het homself goed van sy taak op die veld gekwyt en sy span goed gelei. Sy spel was ook voortreflik en fisiek op verdediging.
6 – Jaco Jordaan (8/10)
Hy het soos die media voorspel het weer ’n harde wedstryd gehad waar hy nie bang was om balbesit vir sy span te wen nie. Gee sy alles.
5- Walt Steenkamp (7/10)
Hy druk die eerste drie maar sukkel in die lynstane. Kan beter gebruik word.
4 – Loftus Morrison (7/10)
Stil wedstryd gehad en gedoen wat hy moes in sy posisie. Hy kan in die volgende weke meer op die voorgrond tree.
3- Bart le Roux (8/10)
Uitstekende dag in die skrum gehad en sy opposisie onder druk gehad. Goed op die aanval ook met ’n paar kranige lopies.
2- Wilmar Arnoldi (6/10)
Een van die groot probleme was Pukke se lynstane. Dit is iets wat hy sal moet opskerp. Hy was wel goed met bal in hand en in die losgemaal.
1- Mashudu Mafela (6/10)
Mafela het hier en daar sy talent bewys maar speel net die eerste helfte en kan nie werklik ’n groter inpak maak nie.
Plaasvervangers
16 – Louis van der Westhuizen (6/10)
Die Namibiese haker vertoon goed in die skrums, maar sukkel ook met lynstaantyd.
17 – Joe Smith (8/10)
Dié kragman het sy staal gewys en Tukkies in die grond geskrum. Goeie 40 minute vir die oud Volkie.

20 – Percy Williams (7/10)
Goeie vaart op skrumskakel vir die 10 minute wat hy gespeel het. Rats, vinnig en ’n goeie skopvoet – hy gaan ’n handjie vol wees hierdie jaar.
*Ander plaasvervangers was nie lank genoeg op die veld om beoordeel te word nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button