NewsNews

Gefrustreerde inwoner nou keelvol vir stadsraad

“Ek gee die stadsraad nog een week om die waterlek in Olienhoutstraat permanent te herstel asook om die gemors in Miederpark te verwyder.” So lees ’n brief wat mnr. Francois Botha aan die stadsraad gerig het uit frustrasie oor die situasie in Miederpark. Volgens Botha is daar waterlekke in Olienhoutstraat en Aarbeilaan wat al sedert Oktober 2015 aan die stadsraad gerapporteer word.

“Ek gee die stadsraad nog een week om die waterlek in Olienhoutstraat permanent te herstel asook om die gemors in Miederpark te verwyder.”
So lees ’n brief wat mnr. Francois Botha aan die stadsraad gerig het uit frustrasie oor die situasie in Miederpark.
Volgens Botha is daar waterlekke in Olienhoutstraat en Aarbeilaan wat al sedert Oktober 2015 aan die stadsraad gerapporteer word.
“Dit is drie keer gerapporteer sonder enige terugvoer en wanneer hulle kom om dit reg te maak, dan los hulle al die gemors van die werk net so. Binne ’n paar dae lek die pype weer. Die raad het al ’n paar slaggate wat deur die waterlekke veroorsaak is kom regmaak, maar dan los hulle ook net hulle materiaal langs die pad,” sê Botha in sy brief.

Rommel wat vir maande in Olienhout straat lê
Rommel wat vir maande in Olienhout straat lê

Uit frustrasie het Botha gedreig om die gemors op te laai en voor die munisipale kantore te gaan stort indien hulle nie teen 29 Januarie opgetree het nie.
Die stadsraad het intussen die waterlekke in Aarbeilaan asook Olienhoutstraat herstel, maar die rommel waar die gate oopgegrou is, lê steeds langs die pad. Van die rommel lê al langer as ses maande daar.
Volgens prof. Johannes Froneman, raadslid vir die wyk, sukkel hy net so om enigiets gedoen te kry.
“Punt is dat die amptenare geen druk van hul politieke hoofde kry om diens vinniger te lewer nie. Kritiek van ons op die politieke hoofde word gewoon geïgnoreer.
Uiteindelik is die enigste oplossing om die regerende party uit die kussings te lig,” het Froneman in ’n brief aan Botha gesê.
Volgens Froneman verstaan hy die inwoners se frustrasie, maar hy kan bloot nie ’n optrede steun wat onwettig is en die situasie net vererger nie.
“Ongelukkig lyk dit soms of net drastiese optrede (soos wat mnr. Botha dreig om te doen) die regerende party se aandag kry.
Feit is dat dienslewering nie vinnig en bekwaam genoeg plaasvind nie en dat ons beter verwag,” het Froneman gesê.
Volgens Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder, is die lekke nie deel van die hoofverspreidingsnetwerk nie, maar individuele waterverbindings na verbruikers.
“Die departement van infrastruktuur het ‘n agterstand met betrekking tot waterlekke. Hul doen egter hul bes. Dit is ‘n feit dat die plaaslike infrastruktuur verouderd is. Die stadsraad konsentreer eers op die grootmaat waterverspreidingsnetwerk, die watersuiweringsaanleg en die waterreservoirs.
Fase twee van die program sal die opgradering van die interne netwerk in die Groter Potchefstroom wees,” het Tshite gesê.
Oor die rommel wat agtergelaat word het die stadsraad nie kommentaar gelewer nie.

Related Articles

Back to top button