CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Groep bring padwerke tot ʼn halt

Plaaslike kontrakteurs van klein, medium en mikro ondernemings (KMMO) het ALS aanvanklik gedwing om die herstel van Govan Mbekiweg tot 'n stilstand te bring, want hulle is van mening die werk kom húlle toe.

Potchefstromers was baie opgewonde toe hulle twee weke gelede die masjiene van ALS Konstruksie sien wat die groot gate in Govan Mbekirylaan herstel.

Dié opgewondenheid was egter van korte duur toe ‘n groep van verskeie KMMO’s (klein, medium en mikro ondernemings) die werke tot ‘n halt bring omdat hulle van mening is dat die werk húlle toekom.

Die samewerking met ALS het gekom nadat DA raadslid Jeanne Adriaanse desperaat probeer het om die gate in Wyk 24 te herstel. Wyk 24 strek onder meer vanaf die Trimpark tot by Du Plooystraat. Adriaanse het een Saterdag saam met Fanie Zoko van die munisipaliteit (infrastruktuur) gery en aan hom al die gate uitgewys.

Nadat Adriaanse verskeie kwotasies ingekry het, is daar uiteindelik met ALS ooreengekom dat hulle die gate sal herstel. Volgens Johan Janse van Rensburg, ‘n direkteur van ALS, herstel die konstruksiemaatskappy die gate gratis. Hulle het wel met die munisipaliteit ooreengekom dat hulle die teer (Asphalt) en SS60 (‘n seëlvloeistof) gratis by infrastruktuur sal kry. Maar die KMMO’s het ‘n stokkie daarvoor gesteek en keer nou dat infrastruktuur die teer en seëlvloeistof gratis ontvang.

Volgens Johan moet hulle nou self die teer en seëlvloeistof in Klerksdorp aankoop met geld wat die Potchefstroom Sakekamer aan hulle verskaf. “Ons het wel na die KMMO’s geluister en ooreengekom om hulle saam met werkers van die munisipaliteit op te lei. Die gate moet op die korrekte manier herstel word anders hou die teer nie. Dit behels onder meer die reghoekige uitsny rondom die gate wat met die regte materiaal gevul word en sorgvuldig gekompakteer word. Die gate word nie net bloot met teer gevul nie,” sê Johan.

ALS-konstruksie het ooreengekom om lede van die KMMO’s en munisipale werkers opleiding in die herstel van paaie te gee. Foto: Jeanne Adriaanse

ALS het ooreengekom dat hulle die opleiding sal verskaf in ruil vir gratis materiaal, maar tot dusver het hulle nog nie die materiaal ontvang nie. Daar sou weer gister (Woensdag) ‘n vergadering met die munisipaliteit, lede van die KMMO’s en ALS gewees het, maar die vergadering het ook nie plaasgevind nie. Intussen sê Adriaanse dit is onregverdig dat sakemanne nog vir die materiaal om paaie reg te maak moet betaal, terwyl infrastruktuur dit gratis aan hulle kon verskaf.

Johan sê die plan is om die hoofpaaie na Potchefstroom binne 100 dae te herstel – Ventersdorp, Carletonville, die N12 en Govan Mbeki Rylaan na Viljoenskroon. “Ons gaan nie stop omdat die KMMO’s ons beveel nie, want ons herstel die paaie gratis. As hulle bereid is om dit gratis te doen, is dit ‘n ander saak,” het hy gesê.

Die Herald het die woordvoerder van die munisipaliteit Maandag, 15 Maart vir kommentaar genader en wou hoor waarom die infrastruktuur nie meer materiaal aan ALS wil verskaf nie, maar het teen die tyd wat hierdie berig geplaas is geen terugvoering ontvang nie.

Related Articles

Back to top button