SportSport

Pukke afrigter plaas fokus op opwindende krieket

“Ons speel vir die wapen op ons bors.” Dit is hoofafrigter, Conrad de Swardt, en sy NWU Pukke-span se doelgerigte mentaliteit voor vanjaar se Varsity Kriekettoernooi wat vanaf 25 -30 Januarie in Potchefstroom plaasvind. Die tweede aflewering van die toernooi beloof uiters opwindende krieket met interessante reëls en regulasies wat spanne op hulle tone gaan …

“Ons speel vir die wapen op ons bors.”

Dit is hoofafrigter, Conrad de Swardt, en sy NWU Pukke-span se doelgerigte mentaliteit voor vanjaar se Varsity Kriekettoernooi wat vanaf 25 -30 Januarie in Potchefstroom plaasvind. Die tweede aflewering van die toernooi beloof uiters opwindende krieket met interessante reëls en regulasies wat spanne op hulle tone gaan hou. Agt spanne gaan in die toernooi meeding dié komende week, wat UP-Tuks, NWU Pukke, Maties, UCT, UJ, Kovsies, NMMU en UWC insluit.

Die 31 wedstryde gaan ’n klomp nuwe helde oplewer en gaan vir kwaliteit kompeterende krieket sorg, glo Duitser Bosman, Hoof Uitvoerende Bestuurder (HUB) van Varsity Sports.

“Die spanne het alles om voor te speel. Die wenner verteenwoordig ook hulle universiteit by die Red Bull Wêreld Universiteit-toernooi later in die jaar, waar die beste universiteitspan gekroon word.” De Swardt glo dat wen nie alles is nie en dat hulle met ’n oop kop ingaan en hulle opwindendste en beste krieket wil speel om die toeskouers behoorlik te vermaak – iets wat juis deel is van Varsity Sports se benadering.

“Ons gaan nie met enige verwagting in nie. Ons wil graag opwindende wenkrieket speel en seker maak dat ons die NWU Pukke trots hou en dat ons vir die mense die beste T20 krieket speel wat ons kan.

“Dit is baie arrogant in T20-krieket om te voorspel dat jy gaan wen. Een boulbeurt kan ’n wedstryd verander. Wedstryde kan deur enige iemand op die dag gewen word,” voeg De Swardt by.

“Pukke het juis ’n klompie spelers wat die wedstryd in hulle guns kan swaai soos Marques Ackerman, André Malan en Wihan Lubbe, wat die kaptein van die span gaan wees.

“Ek glo dat ons nie al ons eiers in een mandjie moet sit nie. Elkeen kan bydra tot die sukses van ’n wedstryd. Dit is uiters belangrik om goed te kolf, te boul en veldwerk te doen.”

“Om sukses te behaal moet ’n mens elke dissipline goed kan doen,” verduidelik De Swardt.

Hulpafrigters, Jimmy Kgamadi en Niel Bredenkamp het saam met De Swardt ook spesifiek hierdie jaar daaraan gewerk om spelers “scenariofiks” te maak.

“Ons het gefokus om die basiese goed reg te kry en aan te pas by wedstrydsituasies. Ons het byvoorbeeld geoefen om lopies in ’n sekere aantal boulbeurte te slaan en die wedstryd- druk so na te maak. Ons voorbereiding hierdie jaar is definitief  skerper en spesifiek,” vertel Bredenkamp.

Die Powerplay Plus boulbeurt gaan veral in vanjaar se toernooi opspraakwekkend wees en kan tot enige span se voor-  en nadeel wees. Wat hierdie jaar anders maak is dat nie een spesifieke bouler geteiken kan word nie, aangesien boulers verander kan word wanneer die kolfspan die Powerplay kies.

“Dit is nou meer strategies en nou moet albei spanne mooi dink wanneer hulle die Powerplay roep,” sê De Swardt.

Volgens die afrigtingspan, gaan die TV-dekking ’n invloed op die spelers hê en hulle sal moet bepaal of dit negatief of positief gaan wees.

“Ons gaan nie wen ten alle koste nie en gaan elke wedstryd geniet. Ek dink dit is ’n goeie kans vir spelers om hulle talent vir die wêreld te wys,” sê De Swardt.

Pukke spog met van die land se beste krieketfasiliteite en saam met die vermaak wat Varsity Sports bring ten opsigte van kompetisies en aktiwiteite, gaan hierdie ’n unieke ervaring wees wat niemand mag misloop nie.

“Dit gaan vir ons om sport en vermaak te kombineer om die toeskouer van bal een af se aandag te hê. Daar gaan grootskerms wees en allerhande pryse om weg te gee. Ons wil hê dat enige iemand die tyd by ‘n wedstryd ten volle geniet,” meen Bosman.

Bepalings (Pukke):

25 Januarie 2016: NWU Pukke teen Tuks by Senwespark om 18:00.

26 Januarie 2016: NWU Pukke teen Maties by Senwespark om 18:00.

27 Januarie 2016: NWU Pukke teen UCT Ikeys by Ibbies Oval om 10:00.

27 Januarie 2016: NWU Pukke teen UWC by Senwespark om 18:00.

28 Januarie 2016: NWU Pukke teen UJ by NWU Puk Oval om 10:00.

29 Januarie 2016: NWU Pukke teen UFS Kovsies by Ibbies Oval om 10:00.

29 Januarie 2016: NWU Pukke teen NMMU by Senwespark om 14:00.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button