SportSport

Potch kolwer behaal Lions droom

“Dit was ‘n ongelooflike goeie ervaring. Ek het baie by die Proteas spelers in die span geleer. Dit was ‘n droom wat waar geword het om vir die Lions te speel.

Een van Potchefstroom se bekendste krieketspelers, Ruan Haasbroek, het van 19-28 Februarie een van sy drome bewaarheid toe hy sy debuut vir die Lions franchise in die T20 Uitdaagtoernooi in Durban gemaak het.

Nie net het Haasbroek (23), ‘n voormalige Gimmies kaptein en huidige Noordwes Dragons en NWU speler, sy debuut gemaak nie, maar hy was ook deel van die wenspan en kon ‘n trofee-oorwinning saam sy nuwe spanmaats geniet.

Die Lions het die Dolphins Sondag, 28 Februarie in die finaal met vier paaltjies geklop. Al ses franchise spanne het vir die tydperk van die toernooi in ‘n Covid-19 bioborrel (isolasie) gespeel – iets waaraan Haasbroek met die Momentum Eendagtoernooi in Potchefstroom vroeg in Februarie reeds blootgestel is.

Haasbroek was deel van die groep, maar het nie ‘n wedstryd gespeel nie. Sy harde werk en talent is raakgesien en hy is toe in die T20-span ingesluit. “Dit was ‘n ongelooflike goeie ervaring. Ek het baie by die Proteas spelers in die span geleer. Dit was ‘n droom wat waar geword het om vir die Lions te speel. Dit het my ook verder gemotiveer oor waarom ek op die hoogste vlak wil aanhou speel,” vertel Haasbroek.

“Die bioborrel was baie opoffering en dit was ‘n ander tipe ervaring as ‘n toer of ‘n toernooi. ‘n Mens kan spelers beter leer ken en sodoende leer ‘n mens meer van die veld af.” Haasbroek het sy debuut teen die Cobras gemaak, maar het nie ‘n geleentheid gekry om te kolf nie.

Ruan Haasbroek tydens sy debuut vir die Lions. Foto: Facebook.

“Die debuut was ook baie lekker, al het ek nie self gekolf nie. Om my eerste “cap” van Reeza Hendricks af te kry was lekker, omdat hy ook van my helde was toe ek ‘n kind was.

“Vir my was dit goed om te weet dat ‘n mens suksesvol kan wees en te weet dat ek goed genoeg is om op daardie vlak te kan speel. Dit was goed om na 23 jaar se harde werk erkenning te kry,” sê hy.

Haasbroek het as skolespeler al naam gemaak by Potchefstroom Gimnasium en in sy matriekjaar in 2015 vir die NW o.19-span in die Khaya Majolaweek verteenwoordig. Sy hondertal het hom ‘n plek in die SA Colts-span besorg.

Daarna het hy talle ander prestasies behaal vir die NWU as speler en het sy Universiteit met lof verteenwoordig. Hy was ook deel van die 2017 Varsity Krieketwenspan en het ook in dieselfde jaar die Red Bull Wereld Universiteitekampioenskappe gewen.

Ruan Haasbroek (links) vier die T20 Uitdaagtrofee saam met Lions en Proteas kolwer, Reeza Hendricks. Foto: Facebook

As Dragons-speler was hy ook deel van die 2018 span wat die CSA eendagreeks gewen het. Nou sien hy juis uit om in Noordwesklere verder naam te maak en ‘n ware lopiemasjien vir sy span kan wees.

“Vir nou is my plan vorentoe om wedstryde vir Noordwes Dragons te wen en ‘n beker te lig. Ek wil aanhou hard werk en lopies slaan sodat ek vir my ‘n kontrak in die A-divisie volgende seisoen kan kry.”

“Die langtermynplan is om in ‘n A-divisie span te speel en gereeld goeie vertonings te lewer om my krieket verder te vat. Om ‘n Varsitykrieketbeker vir die NWU te wen is ook deel van my doelwitte vorentoe.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button