SportSport

Potch na die Kaap in een ysterrit

Om van Potch na Kaapstad met sy fiets te ry was nog altyd een van Shaun Leach se drome.

Om met jou bergfiets die pad vanaf Potchefstroom na Kaapstad aan te durf, verg doelgerigtheid, fiksheid, ‘n goeie kop op jou skouers en ‘n groot liefde vir fietsry. Die Potchefstromer, Shaun Leach, is iemand wat al daardie kwaliteite en nog meer in sy bloed het. Hy het oor die Kerstydperk in Desember in tien dae (20-30 Desember) ‘n ellelange roete met swaar wind, snikhete Karoo-hitte en reën aangepak. Sodoende het hy van Potchefstroom tot in die Kaap met sy bergfiets gery en talle onvergeetlike herinneringe op die sowat 1 550 km roete meegemaak.

Om van Potch na Kaapstad met sy fiets te ry was nog altyd een van Leach se drome. In die wisselvallige en uitdagende jaar wat 2020 was, het hy en sy vriend, Bossie Bosman, besluit om die jaar op ‘n suksesvolle noot agter te laat.

“Dit was nog altyd ‘n groot behoefte op my bucketlist om hierdie rit te doen en elke jaar het iets voorgeval. In 2020 het ons sowat twee maande voor die tyd begin beplan, wat eintlik ‘n kort tyd was,” vertel hy.

Leach en Bosman het die roete oorspronklik saam as ‘n span aangepak, met Bosman se ouers wat die hulpvoertuig gery het om elke dag kos en water aan te ry. Bosman se fietswiel het ongelukkig op die derde dag gebreek en vir sewe dae moes Leach die pad alleen op sy fiets aandurf.

“Ek grap en noem dat dit eintlik ‘n bedekte seën was dat my wiel gebreek het, aangesien ek nie by Shaun sou kon bybly nie. Dit sou lekker gewees het om saam met Shaun klaar te maak, maar as ek terugkyk, kan ek sê dat dit dalk vir my baie moeilik sou wees,” sê Bosman.

Leach en Bosman het hul roete vanaf Potch na Wesselsbron op die eerste dag begin. Op die tweede dag het hulle weer 170 km na Bultfontein toe aangepak, voordat Vanderkloofdam, Britstown, Victoria-Wes, Sutherland, Ceres en Bloubergstrand hulle verskeie oorstopplekke was. “Die Karoo-mense was baie gasvry en vriendelik en ‘n mens kom ‘n nuwe aspek van Suid-Afrika agter om so deur die Karoo en die kleiner dorpe te ry. Die landskap was ook asemrowend, veral die stuk by Ceres en verder suid na Kaapstad,” vertel Leach blinkoog. Bosman noem ook dat die roete so beplan was dat hulle vir veiligheid soveel as moontlik op grondpaaie gery het. “Shaun was regtig ‘n yster om so aan te hou trap en gefokus te bly in die moeilike weersomstandighede. Dit het sowat 92 mm in Fauresmith gereën en in die Karoo het die temperature behoorlik gestyg. ‘n Mens het iets van alles beleef,” beklemtoon Bosman. Volgens Leach kan hy maklik kophou aangesien hy fietsry ook met sy Christenskap verbind en dit as ‘n manier sien om sy kop skoon te kry en alles beter om hom absorbeer en beleef.

“Ek het oor die tien dae goeie tyd saam met God spandeer. My Kersete op die roete was sommer ‘n pastei en roomys,” vertel Leach, wat al sedert 2005 ‘n kranige fietsryer is.

Om so ‘n roete aan te pak is ook ‘n massiewe logistieke taak en volgens Leach moet verblyf vooruit beplan word, die regte toerusting gereed wees en natuurlik moet ‘n mens superfiks wees om duisende kilo’s te trap. “Ek wil in 2021 weer so ‘n roete aanpak, maar hierdie keer vanaf Messina na Kaapstad saam met ‘n groter groep fietsryers. “Enige iemand wat belangstel kan my gerus by 065 802 0387 kontak. Hoe meer fietsryers, hoe lekkerder die ervaring.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button