NewsNews

‘Dit was die beste stukkie van Potch’

“Dit was die beste stukkie van Potch, maar dit sal nie lank wees voor die nuwe River Café soos ’n “Phoenix” uit die as opstaan nie.” So sê Kevin du Plessis, ’n vriend van die eienaars van River Café, wat eerstehands moes beleef hoe dié kuierplek afbrand.

“Dit was die beste stukkie van Potch, maar dit sal nie lank wees voor die nuwe River Café soos ’n “Phoenix” uit die as opstaan nie.”
So sê Kevin du Plessis, ’n vriend van die eienaars van River Café, wat eerstehands moes beleef hoe dié kuierplek afbrand.
Hy sê dit was een van die hartseerste dinge wat hy al ooit moes sien.
River Café, een van die bekendste kuierplekke in Potchefstroom, het Sondag afgebrand nadat ’n weerlig ‘n palmboom getref en brandende takke op die grasdak van River Café beland het.
Volgens Du Plessis was hulle besig om saam met die eienaars van River Café, Francois en Marna de Wet, by die huis langs River Café te braai toe die weerlig die boom tref.
Brandende takke het op die grasdak van River Café geval.
“Ons het die vlamme probeer blus, maar dit was te laat, die plek was reeds besig om af te brand,” vertel Du Plessis. Gelukkig was River Café ten tyde van die brand gesluit en niemand is beseer nie.
Die brandweer het mense probeer weghou van die toneel omdat daar gasbottels binne in die restaurant was wat kon ontplof. Tlokwe brandweer, Pukke se nooddienste, ER24, die polisie, verkeer, asook Mooirivier Beskerming was op die toneel om te help.
Die brand het vinnig versprei en na raming het dit slegs 45 minute geneem om totaal af te brand.
Die skade kon teen druktyd nog nie bevestig word nie.
Nuus oor die brand het baie vinnig op die sosiale media versprei. Nadat die Herald die nuus Sondag omstreeks 17:00 op hul Facebookblad geplaas het, het meer as 109 000 mense dit Maandagoggend gesien en dit is meer as 700 keer met ander gedeel.
Du Plessis sê soos hy die eienaars ken gaan dit nie lank wees voor daar ’n nuwe River Café verrys nie!
Boodskappe van bemoediging het oor sosiale media ingestroom.
“Einde van ‘n era.. My hart is gebreek. Sterkte aan die eienaars. Hoop die versekering betaal goed uit. Ons is baie lief vir die River Café,” het Colette Pretorius op Facebook gesê.
“Ek kan dit nie glo nie! Dis soos die beste plek in Potch! So goeie memories daar gehad. Dis so ‘n jammerte,” het Sonja du Preez gesê
“Baie memories! Hulle sal weer opstaan!” het Laneze de Koning bemoedig.

Related Articles

Back to top button