CommunityLocal newsNews

ML Fick verwelkom dié nuwe hoof

Na twee jaar het Laerskool ML Fick uiteindelik mnr. Lourie van der Merwe aangestel as die amptelike hoof...

Na bykans twee jaar het Laerskool ML Fick uiteindelik hulle nuwe hoof aangekondig.
Mnr. Lourie van der Merwe is verlede week as nuwe hoof van dié spogskool in Potchefstroom aangewys. Mnr. van der Merwe is al 32 jaar deel van ML Fick en ‘n ware aanwins vir die skool. Hy is in Ventersdorp gebore en het sy hoërskoolloopbaan in Parys voltooi, waarna hy by die Onderwyskollege in Potchefstroom kom studeer het.
Dit is hier waar hy sy vrou, ‘n wiskunde onderwyser by Volkies, ontmoet het.
“Ek het in 1985 by ML Fick begin skoolhou en hier is ek nog steeds,” sê hy. In 1992 is mnr. Van der Merwe bevorder tot departementshoof en in 1999 tot adjunkhoof. Hy was ook die afgelope twee jaar die waarnemende hoof en is nou uiteindelik aangestel as die amptelike hoof van die skool. Hoewel niemand in sy gesin in die onderwys is nie, het hy ‘n passie vir kinders, en het daarom besluit om sy lewe toe te wy daaraan om met kinders te werk.
“Sekere onderwysers in die hoërskool het ‘n impak op my gemaak en my geleer hoe om op te tree en weer hoe om nie op te tree nie,” sê hy. Terselfdertyd wou hy ook iets oordra aan kinders en so het sy passie ontwikkel. Sy hoofvak is wiskunde, maar hy het oor die jare sport ook af gerig.
“Dit is vir my regtig lekker om met kinders te werk, en hulle persoonlikhede te leer ken. Ons is ‘n span,” sê mnr. Van der Merwe, wat homself glad nie bo ander plaas nie. Hy werk al vir meer as 20 jaar saam met van die personeel by ML Fick, en het ‘n sterk band gebou met hulle.
“Ek glo aan konsekwentheid, eerlikheid en dissipline. Die personeel hier ken my al, hulle weet ek is ‘n ‘reg’ of ‘verkeerd’ persoon.”
Mnr. Van der Merwe sê hoewel hy nou die hoof is, hy steeds deel van die res van die personeel wil bly.
“Ek wil saam met hulle grappies maak. Ek wil nie hê die atmosfeer moet verander wanneer ek in ‘n vertrek inloop nie.” Hy is plat op die aarde en het nie ‘n druppel hoogmoed in sy bloed nie. Wanneer hy nie besig is om ‘n skool op sy skouers te dra nie, ontspan hy op die gholfbaan en kan Saterdae nie wag om te gaan speel nie. Met ‘n sterk geloof en ‘n lewe baie na aan die Here glo hy dat hy nie sou wees waar hy vandag is sonder genade nie.
“Ek is tot alles in staat deur Jesus Christus wat my krag gee,” sê hy.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button