EntertainmentLifestyle

10 vrae met Tiaan Engelbrecht

"Ek speel kitaar vir ‘n lewe en probeer om so veel as moontlik te doen daarmee. Onder andere speel ek gereeld vir ‘n verskeidenheid van musiekgroepe, soos vir Deon Meiring en vir die NWU Jazz Big Band."

Potchefstroom Herald het met een van Potchefstroom se top voltydse musikante en kitaarspelers, Tiaan Engelbrecht, gaan gesels.

1. Vertel my meer oor wat jy doen vir ʼn lewe (wat behels dit, wat is die lekkerste daarvan en wat is die slegste daarvan)

Ek is ‘n voltydse musikant! Ek speel kitaar vir ‘n lewe en probeer om so veel as moontlik te doen daarmee. Onder andere speel ek gereeld vir ‘n verskeidenheid van musiekgroepe, soos vir Deon Meiring en vir die NWU Jazz Big Band, ek gee kitaarlesse deur my musiekmaatskappy (Texas Music Co.), ek word gevra om opnames te doen ens.
In hierdie industrie kan mens nie net een ding doen en verwag jy gaan jouself kan onderhou daardeur nie, daarom gryp ek elke geleentheid aan wat oor my pad kom.

2. Waar het jy groot geword en toe jy ʼn kind was, wat wou jy eendag word?

Ek het in Randburg, Johannesburg groot geword.
Ek was van die oomblik wat ek in Graad 5 begin klavier speel het oortuig dat musiek is wat ek wou doen!

3. As jy een plek kon kies in Potch waar jy meeste van jou tyd wil deurbring, waar sou dit wees?

Tien teen een TORO! Dis so ‘n ongelooflike “creative hub” op die oomblik.

4. Vyf mense wat jy nog wil ontmoet, en hoekom?

Beslis van my gunsteling musikante: Bob Reynolds, Mark Lettieri, Plini, Cory Wong en Julian Lage. Dit is almal musikante wat mens kan hoor lewensryk is, so ek sal net met elkeen ‘n gesprek oor musiek en die lewe wil hê!

5. Saam met wie wil jy nie in ʼn hysbak vassit nie (net een persoon)?

Ek dink ‘n drie jarige wat pas blokfluit leer speel het!

6. Jou gunsteling plek waarheen jy al gereis het, of heen wil reis?

Ek dink my gunsteling plek is in ons land! Ek was in Julie die jaar in ‘n bitter klein dorpie in die kaap met die naam “Greyton” en die dag wat ek kan, trek ek soontoe!
Dit is ‘n regte “picturesque” klein dorpie in die berge.

7. Wat is jou stokperdjies?

Ek geniet dit om “content” te maak! Of dit nou foto’s, videos of net nog musiek is, ek geniet die proses van iets skep vir media regtig baie.

8. Vyf dinge waarsonder jy nooit die huis sal verlaat nie?

Deesdae is dit my kitaar, Mac Book, flip file met al my bladmusiek in, ‘n waterbottel en ‘n plektrum. Alles pas netjies in een tassie in!

9. Drie gunstelingdisse?

Vida Verde het so ‘n lamb, dried apricot and cashew pizza wat ek glo ek aan verslaaf is! Dan is ‘n goeie burger en sushi ook wenners in my hart!

10. Wat is jou gunstelingaanhaling?

“The professional respects his craft. He does not consider himself superior to it. He recognizes the contributions of those who have gone before him. He apprentices himself to them.
-Steven Pressfield, The War Of Art.

Related Articles

Back to top button