SportSport

Luiperds se hemelbesem-broers reik na groot hoogtes

Dit is duidelik dat die broers Danny (23) en Reuben (21), albei naby 2m lank, ‘n hegte band het en dat daardie verstandhouding ook op ‘n rugbyveld uitspeel.

Twee hemelbesem-broers het die Luiperds se spreekwoordelike rugbyenjin hierdie Curriebekerseisoen bietjie woema gegee. Lang, kragtig en met ‘n passie vir rugby wat in hulle are bruis, het Alberton se Danny en Reuben du Plooy as broers hulle stempel in groen en rooi afgedruk.
Om so saam in ‘n rugbyspan te speel is eintlik niks nuuts vir die Du Plooy’s wat al van Laerskool af saam die ovaalbal rondgooi en saam duikslae op opponente uitvoer.

“Ek is definitief die mooier een tussen my en my broer,” skerts Danny, met sy broer wat vir hom glimlag. “Ek sê vir coach André (Pretorius) ek gaan een van die dae losskakel speel – hou my dop. Dan gaan ek minder beserings kry,” grap Reuben verder.

Dit is duidelik dat die broers Danny (23) en Reuben (21), albei naby 2m lank, ‘n hegte band het en dat daardie verstandhouding ook op ‘n rugbyveld uitspeel.

“Dit is lekker, want ons verstaan mekaar en weet hoe om vir mekaar te luister. Ons weet hoe om met mekaar te werk. Hy is definitief meer aggressief op die veld as ek,” vertel Reuben.

Foto’s: Wouter Pienaar

“Dit is lekker om te weet dat jy iemand het wat jou verstaan op die veld, maar dit kan ook moeilik raak. Soms sal ons mekaar op die veld ook uitskel. Ons dink altyd ons weet beter as die ander een. Daar is voordele en nadele om as broers saam te speel” sê Danny.
Beide Danny en Reuben het by Hoërskool Marais Viljoen in Alberton gematrikuleer en ook altwee saam in die eerste rugbyspan gespeel waar hulle toe ‘n slot-paar was.

Hulle paaie saam in ‘n span op die rugbyveld het weer gekruis toe hulle vanjaar in die 2019 Varsitybekerspan gespeel het. ‘n Paar maande is hulle saam in die Luiperds se tradisieryke trui en albei erken dat rugby op Curriebekervlak die fisiese kant in jou uitbring.

“Dit voel asof jy teen ‘n paar harde ouer ouens met meer direkte kontak speel. Varsitybeker is nou weer baie vinniger so dit gee ‘n speler ‘n goeie balans,” noem Reuben.

“Ons kom uit ‘n familie wat ‘n groot liefde vir rugby het. My pa het op sy tyd goeie rugby gespeel en my nefie, Koch Marx, het ook vir die Leeus gespeel,” vertel Reuben.

Volgens die twee broers was dit goed vir hulle dat hulle Luiperds-afrigter, André Pretorius hulle ook motiveer en hulle ondersteun. Vir hulle is dit die belangrikste om met elke wedstryd gefokus te bly.

“Ek dink persoonlik nie hoe ek gaan speel nie en probeer om die span eerste te stel en die plan so goed as moontlik uit te voer,” noem Danny.

“Ek wil dit net geniet, want as ek my rugby te ernstig opneem, gaan ek dit nie meer geniet nie,” verduidelik Reuben.
Albei studeer tans aan die Noordwes-Universiteit, met Danny wat ‘n vierde jaar MBW-student is en Reuben wat ‘n finale jaar MBW en sielkunde-student is.

In die toekoms sal Reuben graag oorsee wil rugby speel en maklik kan aanpas, terwyl Danny meer sy opsies oophou en as die geleentheid daar is, ook sy rugbyloopbaan so wil bevorder.

Ongetwyfeld is daar nog ‘n blink pad voor vir die twee broers wat nou die familienaam in Potchefstroom hoog hou.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button